Bfn se begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan is aanvaar
- Saamgestel deur Ilde Roos

- May 29
- 1 min read
Die Mangaung-metro se begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan vir die 2026-’27- tot die 2028-’29-boekjaar is ná skerp kritiek van opposisiepartye op ’n raadsvergadering aanvaar.
Die burgemeester van die Mangaung-metro, Gregory Nthatisi, het Donderdag sy begrotingsrede in die Bloemfonteinse stadsaal gelewer.
Netwerk24 berig 52 uit 100 raadslede het vir die begroting gestem, terwyl die DA en die VF Plus daarteen gestem het.
Die VF Plus-raadslid in die metro, Henry Denner, het in sy spreekbeurt gesê dit is nie ’n herstelplan nie, maar ’n dokument wat die stadige ineenstorting van Mangaung bevestig, terwyl lojale inwoners veronderstel is om meer te betaal en minder te ontvang.
Denner sê die “mislukking” is veral sigbaar in die behandeling van kleinhoewe-gemeenskappe soos Bloemdal, Spitskop, Ferreira, Estoire, Bainsvlei, Kwaggafontein, Kellys View en omliggende areas.
Hy sê hulle word geldelik gestraf met buitensporige tariefverhogings, nuwe residensiële belastingkategorieë, en drasties hoër tariewe en belasting, sonder dat enige dienste gelewer word.
Rosestad-nuus het vroeër berig die DA se burgemeesterskandidaat vir Mangaung, Werner Pretorius, voer aan dat die ANC nie kan verduidelik waarom inwoners nog ʼn begroting moet vertrou wat volgens hom op onrealistiese aannames en verbreekte beloftes gebou is nie.








Comments