Gayton McKenzie sê die MRK het by 'n politieke veldtog teen hom aangesluit
- Armando Pieters

- Aug 22
- 1 min read
Die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, sê die Menseregtekommissie (MRK) het by ’n politieke veldtog teen hom aangesluit deur 'n verklaring uit te reik wat sê daar is prima facie-bewyse van “haatspraak” teen hom gevind.
Hy voeg by dié openbare verklaring kom ook neer op laster omdat die MRK nie met hom vergader het voordat dit uitgereik is of 'n verhoor aan hom gegee het nie.
Netwerk24 berig sy kommentaar volg nadat die MRK verlede week aangekondig het dat hy McKenzie ondersoek weens haatspraak nadat hy jare gelede inskrywings op die destydse Twitter gemaak het waarin die k-woord opduik.
McKenzie sê dis dieselfde organisasie wat in 2019 verklaar het dat die woorde ‘Kill the Boer’ nie haatspraak is nie, maar wat vinnig was om haatspraak in sy twiets te vind.
McKenzie sê sou sy saak in die howe beland, sien hy daarna uit om die MRK onder kruisverhoor te neem en in die verleentheid te stel.





Comments