OGGEND SPORT: Boland klop die Flexbrands Knights, die Protea Warriors behou die Afrika Beker-titel en, Alonso verbind hom tot Aston Martin vir 2027

Ons slaan af met krieket-nuus: Die Flexbrands Knights het Dinsdagaand met vyf paaltjies teen Boland verloor in die Pro20-beker by Boland Park in die Paarl.
Sports24 berig die Knights het eerste gekolf en 160 vir vyf in hul 20 boulbeurte aangeteken. Cole Abrahams was hul voorste kolwer met 66 lopies van 50 balle, terwyl George van Heerden 53 van 42 balle bygedra het.
Boland het die teiken egter met die laaste bal van hul beurt bereik en op 161 vir vyf geëindig. Gavin Kaplan het met 'n onoorwonne 58 van 41 balle die Boland-jaagtog geanker, terwyl Neil Brand 46 van 33 balle aangeteken het.
Dane Piedt was die Knights se beste bouler met twee paaltjies vir 35 lopies.
Die nederlaag volg ná die Knights se vyf-paaltjie-nederlaag teen die YesPlay WP Cobras in hul eerste Pro20-beker-wedstryd Sondag. Hulle kry Vrydag kans om hul eerste oorwinning van die kompetisie te behaal wanneer hulle die Momentum Multiply Titans om sesuur by die Mangaung Oval in Bloemfontein pak.
In netbal-nuus: Suid-Afrika se Protea Warriors het hul Afrika Beker-titel behou nadat hulle Eswatini met 49-45 geklop het in ‘n strawwe eindstryd by die Internasionale Sportsentrum in Kasarani, Kenia.
Hoofafrigter, Shiko Mokaila, beskryf dit as ‘n trotse prestasie in slegs nege maande nadat hy die leisels oorgeneem het en prys die spelers en personeel omdat hulle sy planne aanvaar het.
Hy het voorheen as kaptein opgetree toe die span die 2023-titel gewen het.
Die Protea Warriors het onoorwonne gebly in Nairobi en al vyf hul wedstryde gewen, alhoewel Mokaila sê dat hul aantal foute en besluitneming onder druk steeds verbetering verg met die oog op die Wêreldbeker vir Mansnetbal in 2028.
En, in motorsport-nuus: Die voormalige wêreldkampioen Fernando Alonso het ‘n einde gemaak aan bespiegelings oor sy Formule Een-toekoms deur te bevestig dat hy vir die 2027-seisoen by Aston Martin sal aanbly, en sodoende sy vennootskap met Lance Stroll vir ‘n vyfde opeenvolgende jaar verleng.
Die 45-jarige Spanjaard het dit oorweeg om uit te tree, maar sê sy passie vir wedrenne, tesame met sy oortuiging dat hy steeds oor die spoed en vasberadenheid beskik om op die hoogste vlak mee te ding, het hom oortuig om voort te gaan.
Alonso, wat in 2005 en 2006 opeenvolgende wêreldtitels saam met Renault gewen het, spog met 32 Grand Prix-oorwinnings en 106 podiumplekke en sê hy glo in Aston Martin se langtermynprojek en die mense daaragter.








Comments