OGGEND SPORT: Die Blitsbokke maak geskiedenis, die vroue krieketspan klop vir Indië en Ryakina klop Rusland se Andreeve
- Saamgestel deur Jana Roos

- Apr 20
- 2 min read
Ons kyk na ‘n opsomming na van die naweek se sportgebeure.
Ons skop af met sewesrugby: Die Blitsbok Tristan Leyds is as speler van die toernooi aangewys, nadat die Blitsbokke die Hongkong-sewestoernooi gewen het. Hulle het Argentinië in die eindstryd met 35-7 getroef.
Dit is die eerste keer in 33 jaar wat Suid-Afrika die Hongkong-toernooi wen, en die Suid-Afrikaners se vierde agtereenvolgende toernooi-oorwinning.
Intussen het die Springbok-vroue se sewes hul Hongkong-veldtog op ‘n teleurstellende noot afgesluit en met 25-10 teen Argentinië verloor. Die nederlaag laat die Springbok-vroue ‘n groot uitdaging in die gesig staar, in die oorblywende HSBC SVNS Wêreldkampioenskap-geleenthede in Spanje en Frankryk.
In ander rugby-nuus: In die Verenigde Rugbykampioenskap het die Lions met die Glasgow Warriors in Johannesburg klaargespeel met 54 teen 12. Vroeër het die Stormers 'n nederlaag teen die Ierse Connacht in Kaapstad gely. Die besoekers het met 33 teen 24 as die wenners weggestap.
In krieket-nuus: Die Suid-Afrikaanse vrouespan het Indië in die eerste van 'n reeks van vyf T20-wedstryde met ses paaltjies in Durban geklop. Die besoekers het 157 lopies vir die verlies van 7 paaltjies aangeteken. Die Protea-vroue het die wenlopies in die laaste boulbeurt aangeteken, met nog vyf balle oor.
Die kaptein, Laura Wolvaardt, het 'n vyftigtal aangeteken.
Ons sluit af met tennis: In die Stuttgart Ope het Elena Ryakina van Kazakstan die Russiese tiener, Mirra Andreeva, in twee stelle in die halfeindronde geklop. In die ander halfeindronde-kragmeting het die Tsjeg Karolina Muchova in drie stelle met Oekraine se Elina Svitolina klaargespeel.
In die mansafdeling was die Italianer Flavio Cobolli in trane nadat hy die wêreld se nommer drie, Alexander Zverev van Duitsland, geklop het met 'n telling van 6-3 en 6-3.








Comments