OGGEND SPORT: Die Proteas wankel terwyl Australië beheer oorneem, ‘n beseringskrisis by die Springbokke kan die deur oopmaak vir nuwe gesigte en, Fleetwood verstom vir Arsenal

Ons begin met krieket: Suid-Afrika is op die openingsdag van die derde toets teen Australië op Nuweland in Kaapstad vir 329 lopies uitgeboul. Mitchell Starc het met syfers van 6-72 geëindig, terwyl Suid-Afrika hul laaste vier paaltjies vir slegs twee lopies verloor het.
Die Proteas het uitstekend begin met Marques Ackerman wat 95 lopies aangeteken en Aiden Markram 78 bygedra het, voor Nathan Lyon twee keer toegeslaan het en die wedstryd in Australië se guns laat swaai.
’n Vennootskap van 95 lopies tussen Ryan Rickelton se 42 en Marco Jansen se 52, het die beurt tydelik gestabiliseer, maar toe het Starc deur die onderste kolwers gebreek. Ackerman het erken dat die Proteas lopies op die veld laat lê het, nadat hulle van 158 sonder verlies na ’n totaal van 329, almal uit teruggeval het.
LUISTER HIER:
In rugby-nuus: Daar word verwag dat Rassie Erasmus hierdie week sy Springbokgroep sal aankondig vir volgende maand se Nasieskampioenskap-toetse teen Italië, Frankryk en Ierland, met ’n groeiende lys beserings wat moontlik sy keuses kan beïnvloed.
Cheslin Kolbe, Andre Esterhuizen en Eben Etzebeth is van die spelers oor wie daar die meeste kommer bestaan weens beserings, met Handré Pollard se dyspierbesering wat nog geëvalueer word, terwyl RG Snyman en Kwagga Smith steeds langs die kantlyn staan.
Hierdie terugslae kan geleenthede skep vir spelers wat nog nie vir die Springbokke uitgedraf het nie.
Ten spyte van die beseringsprobleme beskik die Springbokke oor diepte in die meeste posisies en Erasmus moet nou besluit of hy nuwe talent wil inbring, sy spelers se werkslading wil bestuur, of by sy gevestigde sterre wil bly.
En, in sokker-nuus: Arsenal het 'n vernederende Ligabeker-uitskakeling gely nadat die vierde-vlak Fleetwood Town die Premierliga-kampioene met 5-3 op strafskoppe uitgeskakel het na 'n 1-1 gelykopuitslag in hul vierde ronde-wedstryd.
Arsenal se aand het vererger toe die 16-jarige Max Dowman in die laaste stadiums vir gewelddadige gedrag afgestuur is, aangesien bestuurder, Mikel Arteta, se besluit om nege veranderinge aan te bring voor Sondag se liga-wedstryd teen Liverpool misluk het.
Fleetwood-bestuurder, Matt Lawlor, was oorweldig deur emosie terwyl juigende ondersteuners 'n beroemde oorwinning gevier het wat onder die grootste skokke in die Ligabeker-geskiedenis tel.










Comments