OGGEND SPORT: Die Springbokke en die Springbokvroue bou voort op ‘n wenbegin, Australië wen hul sewende T20-wêreldbekertitel en, Sinner en Djokovic is op koers
- Saamgestel deur Jana Roos

- Jul 6
- 2 min read
In rugby-nuus: Die Springbokke het ‘n oortuigende oorwinning van 45-21 teen Engeland behaal, terwyl afrigter, Rassie Erasmus, die span se reaksie op die laat onttrekkings van Siya Kolisi en Eben Etzebeth geprys het.
Erasmus sê die noodgedwonge veranderinge het die groep se diepte met die oog op volgende jaar se Rugbywêreldbeker beklemtoon, met Pieter-Steph du Toit wat uitstekend gevaar het as kaptein en slot.
Na verwagting sal Ox Nche die naweek se kragmeting teen Skotland misloop, terwyl Kolisi, Etzebeth en Andre Esterhuizen vir beserings geëvalueer sal word.
Intussen sê die Springbokvroue afrigter, Swys de Bruin, dat sy span se eerste helfte tydens hul oorwinning van 34-21 oor die VSA die beste was sedert hy die leisels oorgeneem het.
In krieket-nuus: Die Australiese vrouespan het ‘n sewende IKR T20-wêreldbekertitel verower met ‘n gemaklike oorwinning van sewe paaltjies oor Engeland op Lord’s.
Australië het die gasheerspan tot 150-4 beperk en daarna die teiken bereik met 17 balle oor.
Engeland se wag vir ‘n tweede T20-wêreldbekertitel duur voort, aangesien hulle die trofee laas in 2009 gewen het.
En, in Wimbledon tennis-nuus: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, het vir die vyfde keer in ‘n ry die kwarteindronde van Wimbledon gehaal, terwyl die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, deurgedring het en sodoende ‘n rekord van 106 oorwinnings in die mansenkelspel by die All England Club behaal het.
Sinner sal in die kwarteindronde teen Jan-Lennard Struff te staan kom, terwyl Djokovic deurdring na sy sewentiende Wimbledon-kwarteindronde en op koers bly vir ‘n moontlike halfeindstryd teen die wêreldnommer-een.
In die vroue-afdeling het Naomi Osaka vir een van die grootste verrassings van die toernooi gesorg deur die wêreldnommer-een, Aryna Sabalenka, in skoon stelle te klop en haar eerste Wimbledon-kwarteindronde te haal, waar sy teen Karolina Muchova sal speel.








Comments