OGGEND SPORT: Harmer se draaiboulwerk kan deurslaggewend wees, die Springbokvroue maak veranderinge vir hul laaste toets teen Ierland en, Durban is aangewys as die voorkeurstad vir SA se Olimpiese bod

Ons begin met krieket: Die Proteas het op 140-4 in hul tweede beurt gestaan, met ’n voorsprong van net 40 lopies, terwyl die Nuweland-kolfblad al hoe meer hulp aan draaiboulers begin bied het.
Met Australië wat in die eerste beurt ’n voorsprong van 100 lopies opgebou het, glo Simon Harmer dat die Proteas se grootste uitdaging is om die eerste uur op dag vier te oorleef voordat hulle aan ’n verdedigbare teiken kan dink.
Harmer verwag dat die kolfblad nog meer sal draai, terwyl Josh Inglis meen die tyd wat in die wedstryd oorbly, eerder as die teiken, sal ’n bepalende faktor wees. Harmer het ook erken dat swak kolfbesluite bygedra het tot die verlies van vier paaltjies, maar beklemtoon dat druk en die omstandighede waarin spelers hulself bevind, ’n groot rol in sulke besluite speel.
In rugby-nuus: Die Springbokvroue sal Saterdag in die laaste toets van die jaar teen Ierland in die Athlone-stadion in Kaapstad sonder die ervare stut, Sanelisiwe Charlie moet klaarkom, nadat sy tydens oefening ’n ernstige kniebesering opgedoen het.
Die mede-afrigters, Laurian Johannes-Haupt en Franzel September, het verskeie veranderinge aan die beginspan aangebring, met Yonela Ngxingolo wat Charlie vervang, terwyl Mary Zulu na die losskakelposisie skuif en Byrhandré Dolf na heelagter.
Lindelwa Gwala en Danelle Lochner sluit ook by die beginspan aan, terwyl Anuschka Ekron en Insaaf Levy geleenthede vanaf die plaasvervangersbank kry. Johannes-Haupt sê die span is vasbeslote om die seisoen op ’n hoë noot af te sluit en beklemtoon dat die veranderinge deel is van ’n beplande rotasie en nie op ’n verandering in speelstyl dui nie.
En, in Olimpiese Spele-nuus: Volgens die waarnemende president van SASCOC, Lwandile Simelane, is Durban gekies as Suid-Afrika se voorkeurstad vir die land se bod om die Olimpiese en Paralimpiese Spele van 2036 of 2040 aan te bied.
Simelane sê die voorkeurstad moes teen 31 Oktober aan die Internasionale Olimpiese Komitee voorgelê word, met die regering wat sy steun aan die bod verleen nadat die Kabinet dit goedgekeur het.
SASCOC sal in November sy saak aan die IOK voorlê en daar word verwag dat uitvoerbaarheidstudies teen Maart 2027 afgehandel sal wees, terwyl die finale keuse van die gasheerstad vir 2029 geskeduleer is.
Durban het voorheen die reg verwerf om die Statebondspele van 2022 aan te bied, maar het daardie regte in 2017 verloor omdat sekere kernverpligtinge nie nagekom is nie.










Comments