top of page
ChatGPT Image Mar 5, 2026, 10_59_10 AM.png

MIDDAG SPORT: Die Bok-vroue is gereed vir ‘n geskiedkundige kragmeting met Ierland, die Vrystaat-stoeispan presteer uitstekend en, tennis stel strenger reëls oor verbode middels

Writer: Saamgestel deur Jana Roos
Saamgestel deur Jana Roos
2 hours ago
2 min read

Ons begin met rugby-nuus: Die Springbok-vroue wil hul goeie vorm voortsit wanneer hulle Saterdag in Kaapstad teen Ierland te staan kom in die eerste toets van ’n geskiedkundige reeks tussen die twee lande.


Die wedstryd op Athlone-stadion begin om 15:00 en vorm deel van die WXV Global Series. Die spanne ontmoet dan weer op 31 Oktober.


Volgens Daily Maverick het Suid-Afrika se span egter ’n paar belangrike beseringsprobleme.


Die ervare slotvoorspeler Babalwa Latsha is weens ’n enkelbesering uit die reeks, terwyl die kapteinskap vir die laaste twee toetse aan Sizophila Solontsi oorgedra is. Die Bok-vroue kom ná oorwinnings oor Italië en Spanje uit hul Europese toer en sal hoop om dié momentum tuis voort te sit. Ierland, wat vyfde op die wêreldranglys is, sal ’n strawwe uitdaging bied.


Die reeks bied Suid-Afrika ook ’n belangrike geleentheid om sy vordering teen een van die wêreld se voorste vrouerugbyspanne te meet.

 

In skolesport-nuus: Die Vrystaat-stoeispan het uitstekend presteer tydens die SAWF Youth & President National Championships wat vroeër die maand in Kaapstad plaasgevind het.

Die span, bestaande uit 32 stoeiers, het die Vrystaat met trots op nasionale vlak verteenwoordig en altesaam 20 medaljes oor twee dae verower.


Op die eerste dag het die stoeiers in hul onderskeie ouderdoms- en gewigsklasse deelgeneem en altesaam 14 medaljes verower -  ses goue-, vyf silwer- en drie bronsmedaljes.


Tydens die Presidente-kompetisie op die tweede dag het die span nog ses medaljes bygevoeg: een goue-, twee silwer- en drie bronsmedaljes. Hierdie puik prestasies is ’n bewys van die stoeiers se harde werk, dissipline, toewyding en deursettingsvermoë.

 

EN in tennis-nuus: Professionele tennisspelers sal vanaf Januarie 2027 aan strenger reëls rakende vermode middels moet voldoen, nadat die InternasionaleTennisintegriteitsagentskap aangekondig het dat spelers nie meer tydens toernooie van sekere verblyf- en beskikbaarheidsvereistes vrygestel sal wees nie.


Volgens Reuters sal spelers voortaan ook gedurende toernooie aan die streng vereistes vir hul verblyfplek en beskikbaarheid vir buitekompetisie-dopingtoetse moet voldoen. Die huidige uitsondering het spelers meer buigsaamheid gebied om hul bewegings tydens toernooie aan te meld. Die nuwe reëls is daarop gemik om te verseker dat spelers steeds vir onaangekondigde toetse opgespoor kan word.


Die verandering is deel van pogings om die integriteit van professionele tennis te beskerm en te verseker dat antidopingmaatreëls konsekwent op alle spelers toegepas word.


Professionele tennisspelers sal vanaf Januarie 2027 aan strenger reëls rakende vermode middels moet voldoen. FOTO: Unsplash
Professionele tennisspelers sal vanaf Januarie 2027 aan strenger reëls rakende vermode middels moet voldoen. FOTO: Unsplash

       

                                   

 

 

 

 
 
 

Comments


bottom of page