OGGEND SPORT: Maharaj se weglating is 'n moeilike besluit, Sabbatini en Germishuys blink uit en, Kane beëindig Engeland se 25-jarige wag vir die Ballon d’Or

Ons begin met krieket: Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, sê dat die weglating van Keshav Maharaj uit die derde toets teen Australië op Nuweland een van sy moeilikste keusebesluite was, met Simon Harmer wat weer bo hom verkies is as die hoofdraaibouler.
Harmer se vermoë om die bal weg te laat draai van Australië se talle linker-kolwers, sy waardevolle bydrae met die kolf en sy glipveldwerk het in sy guns getel.
Bavuma het Maharaj se gesindheid om die span eerste te stel geprys en sê dat Maharaj die redes vir die besluit verstaan en steeds voortgaan om taktiese raad en ondersteuning te bied.
LUISTER HIER:
In gholf-nuus: Die Suid-Afrikaans-gebore Rory Sabbatini het ’n agterstand van vier houe uitgewis om die Stifel Classic op die Amerikaanse senior PGA-reeks te wen, met ’n laaste rondte van 62 en ’n wenpunt van 14 onder baansyfer, een hou voor Darren Clarke.
In Suid-Korea het Casey Jarvis die Genesis-kampioenskap derde geëindig nadat hy in die laaste rondte teruggesak het, terwyl Yuko Katsuragawa met 13 onder baansyfer sy tweede DP World Tour-titel met twee houe gewen het.
Intussen het Deon Germishuys die Stella Artois-spelerskampioenskap gewen nadat hy Cole Stevens in ’n uitspeelstryd geklop het, met ’n uitstekende tweede hou wat hom ’n maklike voëltjie besorg het.
En, in sokker-nuus: Die Bayern Munich-doelskieter, Harry Kane, het vir die eerste keer die Ballon d’Or vir mans gewen en is daarmee die eerste Engelse speler sedert Michael Owen in 2001 wat die toekenning ontvang.
Die 33-jarige het verlede seisoen 73 doele in 65 wedstryde vir sy klub en land aangeteken, tewyl hy Bayern gehelp het om beide die liga- en beker-titels te verower en ook Engeland na die halfeindstryd van die Wêreldbeker gelei het.
Kane was vir die derde agtereenvolgende seisoen die voorste doelskieter in die Bundesliga en het die 2025-26-seisoen afgesluit as die speler met die meeste klubdoele in Europa.









Comments