Adresprobleme bemoeilik spesiale stemme in die Vrystaat

Verskeie kiesers in die Vrystaat het probleme ondervind om hul spesiale stemme uit te bring weens onduidelikhede oor hul woonadresse en wyksindelings.
Volgens SABC News sê die provinsiale bestuurder van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, Itumeleng Liba, sommige kiesers moes eers hul woonadresse verskaf voordat hulle stembriewe kon ontvang.
Nadat hul besonderhede bygewerk is, is bevind dat sommige in ander wyke as die stemlokale waar hulle aangemeld het, geregistreer is. Hulle kon gevolglik net een stembrief ontvang in plaas van twee.
Die VF Plus se adjunk-provinsiale leier, Tammy Breedt, het vanuit die Verkiesingsuitslagsentrum in Bloemfontein gesê veranderings aan munisipale grense het ook daartoe gelei dat sommige kiesers se adresse nie meer korrek op die kieserslys verskyn nie.
Sy sê daar is ook gevalle waar mense vir spesiale stemme aansoek gedoen het, maar nie op die spesiale stemregister verskyn het nie. Die party het dié probleme by die verkiesingskommissie aangemeld.










Comments