Amber-Lee Hughes verskyn op TikTok vanuit die tronk

Video’s, selfies en oënskynlike stemboodskappe van die veroordeelde moordenaar Amber-Lee Hughes het op TikTok beland terwyl sy in ʼn Johannesburgse tronk aangehou word.
Maroela Media berig die departement van korrektiewe dienste (DKD) het 'n onwettige selfoon tydens 'n klopjag gevind. Volgens die DKD het ʼn selmaat in dieselfde eenheid as Hughes eienaarskap van die foon erken.
In die video’s van TikTok-gebruiker Just Advocacy word beweer dat Hughes ongehinderde toegang tot ʼn selfoon geniet. Dit is onseker waar dié TikTok-gebruiker die beeldmateriaal bekom het.
Selfies van Hughes kan gesien word en ʼn stem wat blyk sy te wees, gehoor word. In nog ʼn video blyk Hughes na bewering te wys hoe dit lyk in die gedeelte van die tronk waar sy aangehou word.
Die departement het bevestig die omstandighede rondom hoe die selfoon in die tronk beland het, die opname, en die egtheid van die stemboodskap word nou ondersoek.
Hughes is vroeër aan die moord op die vierjarige Nada-Jane Challita skuldig bevind.








Comments