Bankwerknemers en ander verdagtes in hegtenis geneem ná R3 miljoen bankroof in Gauteng

Twee bankwerknemers is saam met twee ander verdagtes in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by 'n Gautengse bankroof. The Citizen berig dat polisiewoordvoerder, Luitenant-kolonel Mavela Masondo, bevestig dat die bankwerknemers glo met ander verdagtes saamgewerk het tydens die rooftog waarin meer as R3 miljoen gesteel is. Masondo voeg by dat, kort ná die rooftog is 'n span saamgestel om die verdagtes op te spoor. Binne 48 uur is leidrade oor moontlike verdagtes en vlugvoertuie verkry. Die polisie het die eerste verdagte in Tshwane in hegtenis geneem voor die tweede verdagte, na bewering die hooforganiseerder, ook opgespoor en in hegtenis geneem is. Hy was in besit van bankkoeverte met kliënte se bankkaarte en 'n VW Golf wat onlangs in Pretoria-Noord gekaap is. Die beskuldigdes sou na verwagting op Maandag 2 Desember in die Tembisa-landdroshof verskyn het op aanklagte van sake-inbraak, die besit van gesteelde voertuie, en die besit van gesteelde eiendom.








Comments