Die negende Ekurhuleni-moord is moontlik weens 'n liefdesdriehoek

Die ondersoek na die moord op die negende vrou wie se liggaam in Ekurhuleni gevind is, het ’n nuwe wending geneem, met ’n moontlike liefdesdriehoek wat nou deel van die ondersoek vorm.
Netwerk24 berig die polisie ondersoek die moontlikheid dat die vrou se dood met ’n liefdesdriehoek verband hou en dus moontlik nie direk met die ander vrouemoorde aan die Oos-Rand verbind is nie.
Die polisie het intussen een man en twee vroue oor die naweek in verband met die Dawn Park-saak in hegtenis geneem. Hulle sou Maandag in die Boksburg-landdroshof verskyn. Die polisie sê verdere besonderhede oor die saak sal in die hof bekend word.
Rosestad Nuus het vroeër berig dat drie persone vir ondervraging ingeneem is nadat die negende vrou se halfnaakte liggaam, in ’n laken toegedraai, langs ’n pad in Dawn Park gevind is.
Minstens nege vroueliggame is sedert Julie op verskillende plekke in Ekurhuleni ontdek. Die polisie het tot dusver nie bevestig dat al die moorde met mekaar verband hou nie, en ’n multidissiplinêre taakspan ondersoek steeds die sake.








Comments