Die OVK sê die ANC se kandidaatlyste is vyf minute voor die spertyd opgelaai

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het aan die hof gesê die ANC het kandidaatlyste vyf minute voor die spertyd opgelaai.
EWN berig die kommissie het bygevoeg dat sy rekords toon twee van die ANC se agente het twee uur voor die spertyd van Vrydagmiddag om 17:00 nog aan die indiening van kandidaatlyste vir verskeie munisipaliteite gewerk.
Die ANC het hom tot die Verkiesingshof gewend nadat hy die spertyd gemis het om kandidate in ses munisipaliteite te registreer.
Rosestad-nuus se Ilde Roos verduidelik verder die kommissie het in ondersteunende dokumentasie getoon dat sy bedieners deur die hele indieningsperiode ten volle operasioneel was.
LUISTER HIER:
TRANSKRIPSIE:
Die kommissie sê die ANC het geen bewyse ingedien om sy bewerings van tegniese probleme te staaf nie. Dit het daarop gewys dat daar in die laaste 30 minute voor die spertyd geen aktiwiteit aangeteken is vir enige van die ses munisipaliteite wat die ANC betwis nie. Hoofverkiesingsbeampte Sy Mamabolo het herhaaldelik beklemtoon dat die proses nie tot op die nippertjie uitgestel kon word nie.
Intussen het die nasionale voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, ’n beroep op kalmte gedoen. Mantashe sê 97 % van die ANC se kandidate is suksesvol ingedien, terwyl 3 % nog uitstaande is.
Hy sê die saak dien nou voor die hof en daar moet toegelaat word dat dit sy gang gaan.








Comments