Die vermiste Glen-seuntjie se ma glo die ontvoering is uit wraak
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Nov 11
- 1 min read
Die ma van die vermiste vyfjarige seuntjie van Glen buite Bloemfontein glo haar kind is deur ’n familielid uit wraak ontvoer.
Dit kom nadat haar man, Kholisiwe Jonas, na bewering die driejarige Katleho Joy Leeuw verkrag en vermoor het.
Die vermiste seuntjie, Onkarabetse Leeuw, is Saterdag omstreeks 16:00 laas gesien.
Netwerk24 berig sy ma, Rethabile Leeuw, sê voor haar seun se verdwyning het iemand in die familie aan haar gesê dit is onregverdig dat sy nog haar twee kinders het ná wat haar man glo gedoen het.
Volgens Rethabile is die familielid wat sy vermoed betrokke is, reeds deur die polisie ondervra, maar is daar ’n gebrek aan bewyse.
Katleho se ma, Vuyiswa, sê dit voel of iemand wraak neem op hul familie, of hulle straf vir iets.
Jonas sal op 4 Desember weer in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.
Polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Thabo Covane, het Maandag bevestig Onkarabetse was teen 13:00 nog vermis.
Hy sê soektogte in die Glen-omgewing duur voort.



Comments