Die vermoorde dagmoeder se werknemers bevraagteken Engelse WhatsApp-boodskappe
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Feb 12
- 2 min read
'n Werknemer van die Byenes-dagsorgsentrum in Wilgehof in Bloemfontein, Dipuo Nyokong, sê sy het dit vreemd gevind om ’n Engelse boodskap van haar werkgewer te kry dat sy die volgende dag nie werk toe moet kom nie.
Netwerk24 berig sy het Woensdag so getuig in die moordverhoor van ’n oudwerknemer van die dagsorgsentrum, Mpheng Anna Ntsoeu, en haar kêrel, Katlego Ronald Moroe. Hulle staan tereg weens die moord op Christo Theron, sy vrou, Janine, sowel as Janine se ma, Betsie Kruger, die eienares van die Byenes-dagsorgsentrum.
Nyokong sê sy het die aand voor die moord 'n boodskap op haar werk se WhatsApp-groep gesien wat in Engels vra dat hulle nie die volgende dag werk toe moet kom nie. Sy het toe haar kollega, Luzette Pretorius, daaroor gevra, wat gesê het sy is ook verras.
Pretorius het op haar beurt getuig dat sy, nadat sy die boodskap ontvang het om nie te gaan werk nie, dit ook vreemd gevind het dat sy in Engels geantwoord is.
Rosestad-nuus se Ilde Roos verduidelik verder dat Nyokong wel oudergewoonte die volgende oggend werk toe is.
LUISTER:
TRANSKRIPSIE:
Nyokong was deur van haar kollegas by die hek begroet. Hulle was nie bewus van die boodskap nie, aangesien hulle nie data gehad het nie. By hul aankoms was die hek oop, asook die deur na die wagkamer van die dagsorgsentrum, maar tannie Betsie, soos sy alombekend was, het hulle nie soos vorige oggende daar begroet nie. Nyokong het dit verder vreemd gevind dat die kamer nog donker was en dat daar geen antwoord was toe hulle aan die kombuisdeur geklop het nie. Oor Kruger se verhouding met Ntsoeu het sowel Nyokong as Pretorius getuig dat dit ’n goeie verhouding was, voordat Ntsoeu sowat ’n maand voor die moorde ontslaan is omdat sy glo ’n kind geslaan het.





Comments