Drie is vas in Bfn vir koperkabeldiefstal

Drie mense is in twee afsonderlike ondersoeke in Heidedal en Wilgehof in Bloemfontein in verband met koperkabeldiefstal in hegtenis geneem.
Die Centlec-operasies is in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitgevoer.
Sowat 8 kg koperkabel is Donderdag in Heidedal gevind en positief as Centlec se eiendom geïdentifiseer. Tsholofelo Kok is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte wat verband hou met diefstal, vandalisme en die peuter met noodsaaklike infrastruktuur.
Vrydag is ’n deursoekingslasbrief by ’n perseel in Wilgehof uitgevoer, en twee verdagtes is in hegtenis geneem. Sowat 25 m kaal koperkabel is teruggevind,en vermoedelik dwelms is ook op die perseel ontdek.
Tekens van vandalisme aan Centlec-infrastruktuur is ook in die omgewing ontdek, en sowat 200 m kaal koperkabel en 160 m soliede koperkabel is glo daar gesteel.
Die twee verdagtes staan tereg op aanklagte van diefstal, vandalisme, die peuter met noodsaaklike infrastruktuur, die besit van vermoedelik dwelms en die oortreding van skrootmetaalregulasies.










Comments