Dwelms is in ’n popkop by die Bram Fischer-lughawe gevind

Polisiebeamptes het dwelms met ’n geraamde straatwaarde van R300 000 in ’n haarkapperspopkop by die Bram Fischer Internasionale Lughawe in Bloemfontein gevind.
Volgens polisiewoordvoerder, Luitenant-kolonel Thabo Covane, is die polisie die naweek deur ’n ACSA-toesighouer ontbied nadat die skandeermasjien verdagte materiaal uitgewys het.
Die popkop het aan ’n vrou behoort wat op die punt was om na Johannesburg te vlieg.
Die popkop is oopgemaak en 232 klippe wat vermoedelik rock of crack-kokaïen is, is daaruit gehaal.
Die polisie het ook sowat R93 000 in kontant in haar besit gevind. Sy is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van dwelmbesit en geldwassery.
Die saak word deur die Valke ondersoek en sy sal na verwagting binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.









Comments