Foto's van vroue in 'n hok by Loch Logan ontlok reaksie

Foto’s van twee vroue in ’n traliehok by die Loch Logan-waterfront in Bloemfontein het op Facebook hewige reaksie ontlok en vrae laat ontstaan oor die winkelsentrum se hantering van vermeende winkeldiewe.
Die foto’s toon hoe die twee vroue in ’n geslote, hokagtige struktuur aangehou word terwyl daar vir die polisie gewag word, nadat hulle na bewering betrap is waar hulle klante se handsakke wou steel.
Netwerk24 berig die woordvoerder van die Loch Logan-waterfront, Meryl Henning, bevestig daar is ’n veiligheidsfasiliteit in die sentrum se beheerkamer. Dit is bedoel om ’n beheerde omgewing weg van openbare winkelareas tydens sekuriteitsvoorvalle te bied terwyl die toepaslike owerhede gekontak word.
Die sentrum sê Fidelity Security, sy aangestelde veiligheidskontrakteur, bevestig dat sy personeel tydens die beweerde handsakdiefstalvoorval gevestigde standaardprosedures gevolg het om klante te beskerm en die voorval binne die raamwerk van die wet te hanteer.
Die Loch Logan-waterfront het nie duidelikheid gegee oor hoe lank die twee vroue na bewering in die hok aangehou is voordat die polisie ontbied is of opgedaag het nie, of presies watter prosedures gevolg word wanneer vermeende winkeldiewe daar aangehou word nie.










Comments