Kaapstad is as 'n noodlandingsgebied vir die maansending geïdentifiseer

Kaapstad is as een van die moontlike noodlandingsgebiede vir die Artemis IV-maansending, wat vir 2028 beplan word, geïdentifiseer.
Maroela Media berig 'n span van Nasa het onlangs die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad besoek as deel van voorbereidings.
Indien die sending ná die lansering om enige rede afgelas moet word, kan die ruimtetuig in die see aan die Kaapse kus land. Die besoek was daarom deel van Nasa se gebeurlikheidsbeplanning, wat ook voorsiening maak vir die moontlike behoefte aan dringende mediese sorg.
Nasa se hoof-gesondheids- en mediese beampte, JD Polk, sê die samewerking bou voort op ’n verhouding tussen Nasa en Suid-Afrika wat reeds tydens die Apollo-era begin het. Kaapstad het destyds ook ’n rol as kommunikasieskakel in ruimteverkenning gespeel.
Die traumaprogrambestuurder by die hospitaal, Amanda Klette, sê hulle span is gereed om enige mediese sorg en ondersteuning te verskaf wat tydens die Artemis IV-sending nodig mag wees.








Comments