KRIEKET: Proteas wen maklik teen Chevrons
- Saamgestel deur Armando Pieters

- Jul 15, 2025
- 1 min read
Die Proteas het hul T20-Drienasiesveldtog teen Zimbabwe op ’n wennoot begin toe hulle met vyf paaltjies by die Harare-sportklub gewen het. Die tuisspan het 141/6 bymekaar gemaak terwyl die linksdraaier George Linde die besoekers se beste bouler was met syfers van 3/10. Die Suid-Afrikaners se kolfbeurt het vroeg gesteier op 38/3 maar dit was die debutant Rubin Hermann wat sy stem dik gemaak het met 45 lopies terwyl sy kolfvennoot en Speler van die Wedstryd Dewald Brevis ook onder die Zimbabwiese boulers ingeklim het met ’n vinnige 41 van 17 aflewerings. Die Proteas is Woensdag terug op die speelveld waar hulle die Swart Pette in die tweede wedstryd van die reeks gaan aanvat. Die derde toets tussen Engeland en Indië op Lord's het ’n dramatiese einde gehad toe die tuisspan met 22 lopies op die laaste dag die septer geswaai het. Indië moes 193 lopies vir ’n oorwinning jaag maar is in die 75ste beurt vir 170 uitgehaal. Die snelbouler Jofra Archer wat vier jaar laas toetskrieket gespeel het, het met sy vaart beïndruk en drie paaltjies platgetrek terwyl die kaptein Ben Stokes in ’n marathon skof drie kolwers laat terugstap het vir 48 lopies. Engeland loop 2–1 voor in die reeks van vyf wedstryde met die vierde toets wat die 23ste op Old Trafford begin.






Comments