Mense moet versigtig wees vir vals Aarto-webwerwe

Motoriste word gewaarsku oor ’n toename in swendelary waarin vals Aarto-webwerwe en betalingsboodskappe gebruik word om geld en persoonlike inligting te steel.
Die Padverkeersoortredingsowerheid sê swendelaars gebruik onder meer gekloonde webwerwe, SMS’e, WhatsApp en e-posse om motoriste te teiken.
Motoriste moet nie op verdagte skakels klik of hul bank-, ID- of lisensiebesonderhede verskaf nie.
Boodskappe wat afslag op boetes aanbied of dreig dat ’n bestuurslisensie of voertuigskyf geblokkeer sal word, kan ook bedrieglik wees.
Motoriste moet boetes slegs deur amptelike kanale verifieer en die 16-syfer-oortredingskennisgewingnommer gebruik wanneer betalings gemaak word.
Intussen het die Padverkeersbestuurskorporasie nuwe reëls gepubliseer vir die opleidingsvereistes, pligte en bevoegdhede van verkeersbeamptes in Suid-Afrika.
Die reels vereis dat verkeersbeamptes ’n goedgekeurde kwalifikasie- of vaardigheidsprogram voltooi voordat hulle geregistreer kan word.
Geregistreerde verkeersbeamptes mag munisipale verkeersverordeninge op paaie afdwing en eerste reageer om ongelukstonele te beveilig.
Hulle mag ook voetganger- en voertuigverkeer beheer, patrollies uitvoer en mense sonder ’n lasbrief in hegtenis neem indien ’n oortreding in hul teenwoordigheid gepleeg word.








Comments