top of page
ChatGPT Image Mar 5, 2026, 10_59_10 AM.png

MIDDAG SPORT: De Allende bereik sy 100-toetsmylpaal, Zverev ervaar ‘n skoknederlaag en, ‘n dubbele tragedie tref die Manx Grand Prix

  • Writer: Saamgestel deur Jana Roos
    Saamgestel deur Jana Roos
  • 5 days ago
  • 2 min read

ns begin met rugby-nuus: Springboksenter Damian de Allende sal Saterdag die tiende speler in die geskiedenis word om 100 toetse vir Suid-Afrika te speel wanneer die Springbokke die All Blacks in die eerste wedstryd van die nuwe Castle Double Malt Rugby's Greatest Rivalry-reeks op Ellispark in Johannesburg pak.


Springboks.rugby berig die span wat vir die openingswedstryd aangewys is, toon 'n mengsel van spelers wat in die toets teen Argentinië behoue gebly het, en spelers wat in Suid-Afrika agtergebly het.


Die meerderheid van die spelers in Rassie Erasmus se beginspan, insluitend kaptein Pieter-Steph du Toit, het reeds verlede week in Johannesburg met hul voorbereiding begin, terwyl die res van die groep na Argentinië gereis het.


Slegs twee spelers wat teen Argentinië begin het, behou hul plekke in die beginspan. Hulle is die slot Eben Etzebeth en die losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu. Laasgenoemde vorm die skakelspan met Grant Williams. Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse is op die vleuels, met Damian Willemse op heelagter.


De Allende vorm die sentervennootskap met Jesse Kriel.


Voorlangs maak Ox Nche 'n welkome terugkeer ná 'n besering en sluit hy by Wilco Louw en Malcolm Marx aan. Etzebeth vorm die slotpaar met Ruan Nortje, terwyl Paul de Villiers, Du Toit en Jasper Wiese die losvoorspelers vorm.


Erasmus sê oor Siya Kolisi se weglating dat die gereelde Springbok-kaptein en flank dié week goed gevorder het, maar dat die afrigtingspan besluit het dit sal beter wees om Paul de Villiers eerder vir Saterdag se wedstryd te kies.

 

In tennis-nuus: Die eerstegekeurde Alexander Zverev is deur Tommy Paul uit die Cincinnati Masters geskakel en het met 4-6, 7-6, 6-4 verloor, nadat hy nie daarin kon slaag om ‘n wedstrydpunt in die tweede stel se valbylpot te benut nie.


Paul het munt geslaan uit twee laat breuke in die beslissende stel om die oorwinning te beklink en ‘n kwarteindstryd teen Italië se Flavio Cobolli te verseker.


Die verdedigende kampioen, Iga Swiatek en die derdegekeurde Jessica Pegula, het ook deurgedring, met Swiatek wat vir Diane Parry met 6-3, 6-3 geklop en Pegula vir Sorana Cirstea met 6-2, 4-6, 7-5 verslaan het.


Marta Kostyuk van Oekraïne het ‘n terugvegoorwinning oor die vyfdegekeurde en Franse Ope-kampioen, Mirra Andreeva, behaal en met 4-6, 6-0, 6-2 gewen.

 

En in motorsport-nuus: Die Manx Grand Prix is deur ’n dubbele tragedie getref nadat die Switserse jaer, Mauro Poncini en die plaaslike deelnemer Sam Naughton, tydens kwalifisering op die eiland, Man gesterf het.


Die 29-jarige Poncini, wat sy debuut op die Mountain-baan gemaak het, was Dinsdag in ’n voorval met nog ’n jaer betrokke, terwyl die ander deelnemer geringe beserings opgedoen en hospitaal toe geneem is. Die 37-jarige Naughton, wat in sy tweede jaar van deelname was, is Woensdag ná ’n voorval by Doran’s Bend dood, waarna organiseerders hul medelye met sy vrou Charlotte, vier kinders, familie en vriende betuig het.


Ondanks verbeterde veiligheidsmaatreëls en geen sterftes by verlede jaar se byeenkoms nie, bring dié twee sterftes die totale aantal aangetekende motorfiets- en syspansterftes tydens TT- en Manx-renne op die eiland sedert 1911 op 273 te staan.


Damian de Allende. GRAFIKA: Facebook
Damian de Allende. GRAFIKA: Facebook

 
 
 

Comments


bottom of page