MIDDAG SPORT: Die All Blacks se terugkeer laat ‘n ou rugbytradisie herleef, dit is weer Curriebeker-tyd, en SA mik vir sterk vertonings voor die FedEx-bekeruitspele
- Saamgestel deur Jana Roos

- Aug 7
- 2 min read
Ons begin met rugby-nuus: Vrydagaand se kragmeting tussen die DHL Stormers en Nieu-Seeland is meer as net 'n toerwedstryd – dit is die herlewing van 'n rugbytradisie wat vir bykans 30 jaar ontbreek het.
Vir die eerste keer in drie dekades toer die All Blacks weer op die tradisionele wyse deur Suid-Afrika en pak hulle vier plaaslike franchises voordat hulle later die maand in 'n vier-toetsreeks teen die Springbokke te staan kom. Dié toer laat 'n rugbytradisie herleef wat dekades lank deel van Suid-Afrikaanse rugby was, toe provinsiale spanne die geleentheid gekry het om hul staal teen die wêreld se beste te wys.
Die Stormers is Vrydag die eerste span wat die All Blacks verwelkom, met afskop om 19:00 in die DHL-stadion in Kaapstad. Hoewel verskeie Springbokke nie beskikbaar is nie, het afrigter John Dobson steeds 'n ervare span gekies om die besoekers aan te vat.
Nieu-Seeland, onder kapteinskap van Patrick Tuipulotu, stel op hul beurt 'n sterk groep in, met 'n mengsel van gevestigde internasionale spelers en opwindende jong talent wat hul kans kry voor die toetsreeks.
Die vierde ronde van die Carling Curriebeker-premierafdeling skop af met ‘n kragmeting tussen die voorlopers, Suzuki Griekwas en die Fidelity ADT Lions, in Kimberley.
Die Vodacom Bulls XV kom teen die Airlink Pumas te staan, die Hollywoodbets Sharks XV huisves die Sanlam Boland Kavaliers, en die DHL Stormers XXIII pak Sondag die Toyota Cheetahs.
Beide die Griekwas en die Lions gaan hul kragmeting tegemoet ná indrukwekkende oorwinnings, terwyl die Pumas sal wil voortbou op hul sege in Wellington teen ‘n Bulls-span wat steeds op soek is na ‘n eerste oorwinning. Die Sharks sal daarop gemik wees om terug te slaan teen ‘n Boland-span wat gretig is om te herstel ná hul eerste nederlaag van die seisoen.
Die naweek sluit in Kaapstad af, waar die Stormers wil voortbou op verlede week se oorwinning oor die Sharks, terwyl die Cheetahs hoop om onmiddellik terug te slaan ná hul noue nederlaag in Kimberley en hul wenreeks van sewe wedstryde teen die Kaapse span te verleng.
En in gholf-nuus: Die fokus in wêreldgholf val dié naweek op die Wyndham-kampioenskap, wat van 6 tot 9 Augustus by die Sedgefield Buiteklub in Greensboro, Noord-Carolina, beslis word. Dit is die laaste PGA-toerbyeenkoms voordat die FedEx-bekeruitspele volgende week afskop.
Verskeie Suid-Afrikaners is in die veld, met Erik van Rooyen, Christiaan Bezuidenhout en Thriston Lawrence onder die spelers om dop te hou. Vir almal is 'n sterk vertoning van groot belang, aangesien die uitslag hul posisie op die FedEx-bekerpuntelys en kwalifisering vir die uitspele kan beïnvloed.
Met groot FedEx-bekerpunte op die spel, kan elke hou deurslaggewend wees namate die PGA-toer sy beslissende fase nader.








Comments