MIDDAG SPORT: Jobb wil deel wees van die Blitsbokke-toergroep, drama oorheers die MotoGP en Alonso is gereed vir die Premierliga
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 21 hours ago
- 2 min read
Updated: 5 hours ago
Ons begin met rugby: Die Blitsbokke se volgende Wêreldkampioenskap-kuipstop is vanaf 29 tot 31 Mei in Spanje en afrigter Philip Snyman sal binnekort sy toergroep bekend maak.
Maroela Media berig Sebastiaan Jobb sê hy wil natuurlik in die groep wees. Hy was een van die sterre in die Suid-Afrikaners se suksesvolle Hongkong-veldtog en hy het onder meer ʼn goeie drie teen Nieu-Seeland in daardie toernooi se halfeindstryd gedruk.
Die flinkvoetige Jobb het sy Blitsbok-buiging in 2023 gemaak, maar beserings en ʼn paar rooi kaarte het ʼn invloed op sy vordering gehad. Hy het egter in die laaste paar toernooie gewys waartoe hy in staat is.
Suid-Afrika swaai tans ook die septer op die Wêreldkampioenskap-punteleer en Jobb sal beslis deel van die span se volgehoue sukses wil wees. Hy sê hulle het reeds goed gedoen, maar kan verbeter en dit is waarom hulle nog hard op die oefenveld werk.
In motorsport: Fabio Di Giannantonio het die Katalaanse MotoGP in Barcelona gewen ná ’n chaotiese wedren wat twee keer deur rooi vlae onderbreek is weens ernstige ongelukke op die baan.
Alex Márquez is hospitaal toe geneem nadat hy teen ’n hoë spoed teen die veiligheidsmuur gebots het, terwyl Johann Zarco later ook mediese behandeling ontvang het ná nog ’n voorval kort ná die tweede herbegin.
Pedro Acosta het lank die voortou geneem en op koers gelyk vir sy eerste MotoGP-oorwinning, maar hy het in die laaste rondte geval.
Brad Binder het intussen ná ’n moeilike naweek van die twintigste wegspringplek teruggeveg om voorlopig agtste te eindig te midde van verdere ondersoeke oor banddruk ná die wedren.
En in sokker: Xabi Alonso is gereed vir ‘n terugkeer na die Premierliga nadat hy ingestem het tot ‘n vierjaar-ooreenkoms om Chelsea se nuwe bestuurder vanaf Julie 2026 te word.
Die voormalige Liverpool-middelveldspeler het beïndruk tydens periodes met Bayer Leverkusen en Real Madrid.
Alonso sê hy deel Chelsea se ambisie om ‘n span te bou wat in staat is om voortdurend vir groot eerbewyse mee te ding en glo daar is reeds sterk talent en potensiaal binne die span.
Chelsea, tans negende in die Premierliga, is sonder ‘n afrigter sedert Liam Rosenior se ontslag in April, met Alonso wat verskeie hoëprofielkandidate geklop het om die pos te kry.








Comments