MIDDAG SPORT: ’n Groot uitdaging wag vir die Sharks, Swiatek storm na ‘n Toronto-halfeindstryd en Schwartzel se bal word viskos
- Saamgestel deur Jana Roos

- Aug 11
- 2 min read
Ons begin met rugby-nuus: Die Hollywoodbets Sharks staan Dinsdagaand in Durban voor 'n besondere uitdaging wanneer hulle die All Blacks in die tweede wedstryd van Nieu-Seeland se historiese toer deur Suid-Afrika pak.
Die wedstryd begin om 19:00 by die Hollywoodbets Kings Park-stadion, met die All Blacks wat hul toer voort sit nadat hulle verlede week die Stormers met 38-21 in Kaapstad geklop het.
Nieu-Seeland gebruik die wedstryd om voort te bou op daardie oorwinning, maar ook om sekere swakhede reg te stel. Die All Blacks se skrum- en voorspelerspel was teen die Stormers onder druk, terwyl verskeie strafskoppe en geelkaarte hul momentum geknou het. Kaptein Luke Jacobson sê die span wil Dinsdagaand beter aanpas by die fisieke uitdaging wat Suid-Afrikaanse rugby bied.
Die Sharks het intussen 'n groot naam op hul plaasvervangersbank, met die voormalige All Black en tweemalige Wêreldbeker-wenner Ma'a Nonu wat sy buiging vir die Durbanse span kan maak. Nonu het onlangs by die Sharks aangesluit as spelermentor en kan Dinsdag teen sy voormalige landgenote uitdraf.
In tennis-nuus: Iga Swiatek het ‘n oorheersende vertoning in Toronto gelewer en die vyftiende gekeurde, Diana Shnaider, in slegs 64 minute met 6-2, 6-1 geklop om deur te dring na die halfeindstryd.
Die sewende gekeurde het reeds in die openingspot haar teenstander se afslaan gebreek, haar eie afslaan beheer en munt geslaan uit Shnaider se foute met die voorhand en die laaste ses potte gewen om ‘n oortuigende oorwinning te beklink.
Swiatek sê haar selfvertroue groei danksy die harde werk wat sy in haar oefeninge insit, en sy is bly om weer ‘n halfeindstryd te haal, ten spyte van ‘n seisoen wat nie aan haar gewone standaarde voldoen het nie. Sy kom nou te staan teen die negende gekeurde Elina Svitolina, nadat die Oekraïner van ‘n stel agterstand herstel het om vir Ekaterina Alexandrova met 3-6, 6-0, 6-3 te klop.
En in gholf-nuus: Charl Schwartzel het in die laaste ronde van LIV Golf se Bedminster-toernooi ’n ongewone hindernis teëgekom toe ’n vis oënskynlik sy bal ingesluk het nadat dit in die water langs die sewende setperk gerol het.
Reuters berig die Suid-Afrikaner se bofhou het van die setperk afgerol en in die dam beland, met televisiebeeldmateriaal wat gewys het hoe die bal onder die water weggeraap word.
Die voormalige Meesters-kampioen moes ’n straf van een hou aanvaar en het die putjie met ’n brouhou voltooi. Hy het die toernooi op +2 afgesluit, met die Chileen Joaquin Niemann wat die titel beklink het.







Comments