top of page

'n Bfn regter moet beeste as boete betaal

  • Writer: Saamgestel deur Ilde Roos
    Saamgestel deur Ilde Roos
  • Jan 23
  • 1 min read

Die stamhof van die Bakholokoe-stam in die Oos-Vrystaat het regter Rudi Cronjé in die Bloemfonteinse hooggeregshof met 50 beeste beboet omdat die regter sy koning as “meneer” in die hof aangespreek het.


Netwerk24 berig dit spruit uit die dringende aansoek van die Rooikraal-boerdery teen koning Letsitsa Moloi, wat glo ’n sertifikaat aan ’n onderdaan uitgereik het dat hy ’n plaas by Harrismith mag beset.


Die “mees eerbare hoofregter sy koninklike hoogheid Rex Semako 1 & VI King Mc Pherson” het Donderdagaand ’n bevel teen Cronjé uitgereik nadat Moloi en sy onderdaan, Sipho Johannes Selepe, Donderdag bewyse by die hof moes indien dat die betrokke plaas hul eiendom is, en hy toe verkeerdelik aangespreek is.


Die stamhof, wat na homself as “ECO-6, die globale statebond van die New Africa-interstreekhof van justisie” verwys, het ook gelas dat die boerdery se aansoek teen die koning met koste verwerp word.


Rooikraal-boerdery se prokureur, Pieter Skein, ontken die geldigheid van die koning en die bewyssertifikaat. Sylvester Vulani Mangolele het namens die verweerders opgetree, maar Rooikraal se regsverteenwoordigers het beswaar aangeteken omdat hy nie as prokureur of advokaat geregistreer nie.


Koning Letsitsa Moloi. FOTO: News24
Koning Letsitsa Moloi. FOTO: News24

 
 
 

Comments


bottom of page