‘n Man spring uit ‘n bewegende vragmotor om die polisie te ontduik

'n Man het uit 'n bewegende vragmotor gespring en weggehardloop om van die polisie te ontsnap. Dit kom nadat die vragmotor langs die N1 afgetrek is om vir dagga en dwelms deursoek te word.
Volgens polisiewoordvoerder konstabel Kelello Patsa is die vragmotor oor etlike weke gemonitor aangesien dit glo gebruik om dagga en dwelms van Kaapstad na Johannesburg te vervoer.
Die vragmotor is Saterdag opgemerk en naby Parys in die Vrystaat afgetrek. Die polisie het die rede vir die stop verduidelik en die vragmotor is na die Parys-polisiestasie geneem sodat dit op ’n veilige plek onder toesig van die polisie deursoek kon word.
Sowat 100 m van die polisiestasie af het die bestuurder uit die bewegende vragmotor gespring en gevlug. Polisielede het 452 bale dagga van 1 kg elk en sewe pakkies Mandrax van 1 kg elk gevind. Die dwelms se geraamde waarde beloop altesaam R1,5 miljoen.
Die vragmotor se eienaar het bevestig dat die vragmotor aan hom behoort, maar enige verbintenis met die dwelms en dagga ontken.










Comments