OGGEND SPORT: Die Bokke verwelkom sleutelspelers terug, Pakistan neem beheer en Die Red Bull Agri-Grit-kompetisie gaan plaasvernuf toets
- Saamgestel deur Jana Roos

- Aug 5
- 2 min read
Ons skop af met rugby: Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het verskeie ervare Wêreldbeker-wenners vir Saterdag se toets teen Argentinië teruggeroep, insluitend Siya Kolisi, Eben Etzebeth en Lood de Jager.
Die wedstryd in Buenos Aires sal ook aan spelers soos Sacha Feinberg-Mngomezulu, André Esterhuizen, Canan Moodie en Morné van den Bergh waardevolle speeltyd gee, terwyl ‘n aantal jonger spelers die geleentheid kry om te beïndruk.
Erasmus glo die kragmeting is die ideale toets vir diegene wat van beserings herstel en meen Argentinië sal ‘n strawwe uitdaging bied, wat die groep se gereedheid sal toets.
Hy verwag ‘n swaar stryd teen ‘n passievolle Los Pumas-span.
In krieket-nuus: Pakistan het beheer oor die tweede toetswedstryd oorgeneem deur aan die einde van die tweede dag op 266-2 te eindig, en loop nou slegs 78 lopies agter die Wes-Indiese Eilande.
Abdullah Shafique het onoorwonne op 107 geëindig en het ‘n ononderbroke vennootskap van 168 lopies vir die derde paaltjie saam Babar Azam met 86 lopies die dag afgesluit. Azan Awais het ‘n vinnige vyftigtal aangeteken en Pakistan ‘n uitstekende wegspringplek gegee, nadat die Wes-Indiese Eilande vroeër vir 344 uitgehaal is, met Sajid Khan wat vier paaltjies geneem het, terwyl Ubaid Shah en Ali Usman met die dag se eerste aflewerings toegeslaan het.
Ons sluit af met iets meer uniek: Of jy nou ’n stadsjapie of ’n plaasjapie is, hierdie naweek gaan die groot ewenaar wees om te kyk of daar krag agter sogenaamde gym-spiere is. Dit, tydens ’n uitdaging met toerusting wat jy nie sommer in ’n gimnasium gaan raakloop nie.
Op Middelwater Plaas, net buite Bloemfontein, gaan die Red Bull Agri-Grit-kompetisie wys wat gebeur wanneer ’n werkende plaas in ’n mededingende fiksheidsbaan omskep word.
Volgens ’n verklaring is die beginsel eenvoudig: Neem die daaglikse take waarmee geslagte van Vrystaatse boere grootgeword het, plaas dit teen die klok en kyk wie die deursettingsvermoë het om as wenner uit die stryd te tree.
Deelnemers sal plaaswerk-geïnspireerde uitdagings aanpak, soos om te sleep, op te lig, te dra en te laai. Dit gaan egter nie net oor spoed nie. Punte word ook toegeken vir doeltreffendheid, wat beteken die slimste deelnemer – en nie noodwendig die vinnigste nie – sal die titel inpalm.
Die baan is ontwerp deur die Suid-Afrikaanse hinderniswedren-atleet en Red Bull Rancher Strong-kampioen, Thomas van Tonder, wat inspirasie uit sy eie grootwordjare op ’n plaas geput het.
Saterdag se kragmeting begin om 10:00. Hoewel deelnemers 18 jaar of ouer moet wees, is die geleentheid oop vir toeskouers van alle ouderdomme wat self wil kom sien of plaaswerk kinderspeletjies is – of nie.








Comments