OGGEND SPORT: Die Proteas trek die T20 reeks gelyk, LIV-gholf sorg vir 'n dramatiese eindstryd en Alcaraz vat die trekpas
- Saamgestel deur Jana Roos

- Mar 23
- 2 min read
Hier is 'n opsomming van die naweek se sport.
Ons slaan af met krieket-nuus: Die Proteas het met mening in die vierde T20-wedstryd teen Nieu-Seeland teruggeslaan.
Hul oorwinning van 19 lopies in Wellington beteken dat sake nou gelykop in die reeks is.
Albei spanne het twee seges agter die blad en Woensdag se vyfde kragmeting in Christchurch sal bepaal wie met die uiteindelike reeks-oorwinning wegstap.
Intussen het die Proteas-vroue ‘n tweede agtereenvolgende nederlaag gely nadat hulle met ses paaltjies teen Nieu-Seeland in hul vierde T20 verloor het. Dít ten spyte daarvan dat hulle ‘n mededingende 159 lopies aangeteken het.
Die Wit Varings het die oorwinning met nege balle oor behaal en die reeks verseker.
In gholf-nuus: Suid-Afrika se Southern Guard-span het bitter naby gekom, maar uiteindelik met net een hou teen die Crushers vasgeval in die spanafdeling van die LIV-toernooi by Steyn City.
Ten spyte van die teleurstelling het die Suid-Afrikaners ‘n stewige troosprys verdien, terwyl Bryson DeChambeau ook die individuele titel ingepalm het.
Die toernooi het meer as 100-duisend toeskouers gelok, wat die grootste bywoning nóg vir ‘n professionele gholfbyeenkoms in Suid-Afrika is. Volgens amptenare en spanbestuur het die passievolle plaaslike ondersteuning en wêreldklas infrastruktuur ‘n blywende indruk gemaak op spelers en besoekers.
Die organiseerders het ook reeds bevestig dat LIV Golf in 2027 na Steyn City sal terugkeer.
In tennis-nuus: Carlos Alcaraz is uit die Miami Ope uitgeskakel ná ’n nederlaag in drie stelle teen Sebastian Korda.
Die Spanjaard het met 6-3, 5-7 en 6-4 verloor—wat slegs sy tweede nederlaag van die jaar is.
Die 22-jarige het 2026 begin deur die jongste manlike speler ooit te word wat die loopbaan Grand Slam voltooi het.
Die tweede gekeurde Janik Sinner het na die derde ronde van die Miami Ope deurgedring toe hy Damir Dzumhur met skoon stelle geklop het.








Comments