OGGEND SPORT: Esterhuizen klim die ranglys, Brook en Bethell word gewaarsku en Iran gaan aan die Wêreldbeker-sokker deelneem
- Saamgestel deur Jana Roos

- 1 day ago
- 2 min read
In krieket-nuus: Connor Esterhuizen het op die IKR T20 internasionale-kolfranglys gestyg na die Proteas se reeksoorwinning in Nieu-Seeland.
Esterhuizen het 551 graderingspunte bereik wat die tweede hoogste telling deur ‘n Suid-Afrikaner na vyf wedstryde is, en sit nou agter Graeme Smith in vroeë loopbaangraderingspunte. Die 24-jarige het 64 plekke tot nege-en-dertigste geklim na ‘n indrukwekkende debuutreeks, waar hy 200 lopies aangeteken het, insluitend wedstrydwennende lopies van 57 en 75.
In die boulranglys het Gerald Coetzee 36 plekke tot ‘n gesamentlike twee-en-vyfstigste plek opgeskuif na sy vertoning in Christchurch, terwyl Ottneil Baartman ook vordering gemaak het.
Engeland se witbalkaptein, Harry Brook en veelsydige speler Jacob Bethell, het formele waarskuwings van die onafhanklike Krieketreguleerder ontvang, na ‘n ondersoek na ‘n nagklub-onderonsie in Nieu-Seeland laat verlede jaar.
Brook het aanvanklik beweer dat hy alleen was tydens die voorval in Wellington, maar het later erken dat hy nie eerlik was in ‘n poging om sy spanmaats te beskerm nie. Albei spelers het erken dat hulle professionele gedragsregulasies oortree het, volgens die reguleerder se bevindinge wat Woensdag vrygestel is.
Snelbouler, Josh Tongue, was ook teenwoordig, hoewel geen verdere stappe teen hom geneem sal word nie.
In Wêreldbeker sokker-nuus: Fifa-president, Gianni Infantino, het bevestig dat Iran wel aan die Wêreldbeker sal deelneem en hul groepwedstryde soos beplan in Amerika sal speel, ondanks die konflik in die Midde-Ooste.
Hy het gesê alles is in orde ná gesprekke met spelers en die afrigter, en dat die span hul wedstryde volgens die amptelike loting sal afhandel. Intussen het Iran se spelers tydens ’n vriendskaplike wedstryd hulde gebring aan slagoffers van ’n dodelike lugaanval op ’n skool, wat die oorlog se impak onderstreep.








Comments