OGGEND SPORT: Kolisi is gereed om die Bokke aan te voer, SA A verpletter vir Bangladesj A en, SA20 lewer ‘n rekord ekonomiese impak
- Saamgestel deur Jana Roos

- 1 day ago
- 2 min read
Ons skop af met rugby: Siya Kolisi is die groen lig gegee om na ‘n dyspierbesering terug te keer en sal Saterdag as kaptein van die Springbokke teen die All Blacks by die DHL-stadion in Kaapstad optree.
Hy vorm deel van die lostrio saam met Jasper Wiese en Pieter-Steph du Toit, wat sy 100ste toetswedstryd sal speel, terwyl Paul de Villiers uit die wedstrydgroep gelaat word.
Intussen het afrigter, Rassie Erasmus, verantwoordelikheid aanvaar vir sommige van die besluite wat tot verlede week se nederlaag in Johannesburg bygedra het.
LUISTER HIER:
In krieket-nuus: Die Suid-Afrikaanse A-span het Bangladesj A met ’n beurt en 413 lopies in Centurion geklop nadat hulle hul eerste kolfbeurt op 647-6 gesluit verklaar het.
Sinethemba Qeshile en kaptein Marques Ackerman het elk ’n dubbele honderdtal aangeteken, met Ackerman se 256 lopies van 237 balle en Qeshile se 200 van 263 balle.
Bangladesj A is vir 122 in hul eerste beurt en net 112 in hul tweede beurt uitgeboul, met Tshepo Moreki, Codi Yusuf en Delano Potgieter wat elk drie paaltjies in die tweede beurt geneem het.
Die tweede nie-amptelike toets begin op 30 Augustus in Potchefstroom, waarna die spanne mekaar in drie eendagwedstryde sal pak.
En, die vierde seisoen van die Betway SA20 het volgens ‘n onafhanklike ekonomiese ontleding, ‘n rekordbydrae van ses-komma-vyf miljard rand tot Suid-Afrika se BBP gelewer en negeduisend-470 werksgeleenthede geskep of in stand gehou.
Direkte besteding het tot twee-komma-twee miljard rand gestyg, terwyl huishoudelike inkomste tot een-komma-sewe miljard rand toegeneem het. Bywoningsyfers het met 13 persent gestyg en kaartjies vir 22 van die 34 wedstryde in die ses gasheerstede, is uitverkoop.
Kommissaris, Graeme Smith, sê die ses konsessies en gasheerstede help om belegging, toerisme en geleenthede vir plaaslike ondernemings te bevorder.
SA20 het ook R500 000 vir die Laureus Sport for Good-stigting ingesamel en aan meer as 400 jong begunstigdes die geleentheid gebied om wedstryde lewendig by te woon.








Comments