top of page
ChatGPT Image Mar 5, 2026, 10_59_10 AM.png

OGGEND SPORT: ‘n Kragmeting tussen die voorlopers is die hoogtepunt van die Curriebeker-naweek, Makatu wen silver, en Osaka, De Minaur en Pegula haal die kwarteindronde 

  • Writer: Saamgestel deur Jana Roos
    Saamgestel deur Jana Roos
  • Jul 31
  • 2 min read

Ons skop af met rugby: Die verdedigende kampioene, Suzuki Griekwas, ontvang Vrydagaand in Kimberley die onoorwonne voorlopers, die Toyota Cheetahs, in die laaste wedstryd van die derde ronde van die Carling Curriebeker-premierafdeling.


In Saterdag se wedstryde kom die DHL Stormers XXIII in Kaapstad teen die Hollywoodbets Sharks XV te staan, waarna die Fidelity ADT Lions die Vodacom Bulls XV ontvang. Die ronde sluit Sondag in Wellington af, waar die Sanlam Boland Kavaliers hul onoorwonne status op die spel plaas teen die sukkelende Airlink Pumas, wat steeds na hul eerste oorwinning van die seisoen soek.


Die Cheetahs en Kavaliers begin die naweek met groot momentum ná sterk seisoenbeginne, terwyl die Griekwas, Sharks en Lions almal hul posisies boaan die punteleer wil versterk.

 

In Statebondspele-nuus: Paralimpiese atleet, Masala Makatu, het Suid-Afrika se eerste atletiekmedalje op die Statebondspele gewen om silwer in die T12 kategorie van die 100 meter in te palm.


Sinesipho Dambile het die mans se 200 meter-halfeindronde gewen om gemaklik vir die eindronde te kwalifiseer, terwyl Marioné Fourie ook die 100 meter-hekkies-eindronde gehaal het.


Douw Smit en Karabo More het deurgedring na hul onderskeie eindstryde, terwyl Zakithi Nene die 400 meter-eindronde gehaal het.


In die netbaltoernooi het die Proteas ná ’n belowende begin met 58-54 teen Engeland verloor.


Suid-Afrika sal teen Uganda speel om die vyfde plek, terwyl Australië, Engeland, Nieu-Seeland en Jamaika na die halfeindronde deurgedring het.


En, in tennis-nuus: Naomi Osaka, Alex de Minaur en Jessica Pegula het almal hul plekke in die kwarteindronde van die Washington Ope bespreek, terwyl Alexandra Eala haar indrukwekkende seisoen voortsit deur die verdedigende kampioen, Leylah Fernandez, in skoon stelle te klop.


De Minaur het Cruz Hewitt gemaklik verslaan en kom nou teen Brandon Nakashima te staan, terwyl Osaka volgende teen Elisabetta Cocciaretto sal speel nadat Ashlyn Krueger weens ‘n besering onttrek het.


Pegula het Magdalena Frech geklop en ‘n kragmeting in die laaste agt teen Anna Kalinskaya opgestel.


Intussen het Novak Djokovic bevestig dat hy volgende maand by die Cincinnati Masters tot aksie sal terugkeer, voordat hy sy poging aanwend om ‘n rekord-vyf-en-twintigste Grand Slam-titel by die Amerikaanse-Ope te wen.


FOTO: ChatGPT
FOTO: ChatGPT

 
 
 

Comments


bottom of page