OGGEND SPORT: Rassie het sy spankeuse met latere wedstryde in gedagte bestuur, die Cheetahs is in die knyp en, Brook plaas vir Engeland stewig in beheer
- Saamgestel deur Jana Roos

- Aug 21
- 2 min read
Ons skop af met rugby: Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê Saterdag se openingswedstryd van die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen die All Blacks op Ellis Park is uiters belangrik, maar hy glo die reeks sal eers in die derde of moontlik vierde toets beslis word.
Erasmus het sy spankeuses met die latere wedstryde in gedagte bestuur, met Franco Mostert wat nie genoeg wedstrydtyd gehad het nie, Lood de Jager herstel van beserings en Siya Kolisi word gerus voor die tweede toets in Kaapstad.
Hy glo die span wat sy groep die beste bestuur en met die varsste spelers by die beslissende wedstryde opdaag, sal die beste kans staan om die eerste Rugby’s Greatest Rivalry-trofee te wen.
LUISTER HIER:
Cheetahs-afrigter, Frans Steyn, sê hy moet ’n plan beraam nadat haker, Marko Janse van Rensburg, vir twee weke geskors is ná ’n gevaarlike duikslag in die oorwinning oor die Bulle XV.
Die Vrystaters is reeds sonder ervare haker, Louis van der Westhuizen, weens ’n kniebesering, terwyl derde keuse Vice Hofmeyr nog van ’n skouerbesering herstel en Juan Smal nou ’n groter rol sal moet speel.
Steyn is ook onseker oor die beskikbaarheid van verskeie beseerde spelers vir Sondag se Curriebeker-wedstryd teen die Boland-Kavaliers, met Springbok-skrumskakel, Faf de Klerk, wat met ’n skouerbesering sukkel.
Ondanks die uitdagings sê Steyn beserings sal nie as ’n verskoning dien nie, en hy glo dit bied ander spelers die kans om hulself te bewys.
En, in krieket-nuus: Harry Brook het ‘n vinnige 91 lopies aangeteken en Engeland stewig in beheer van die eerste toets teen Pakistan by Headingley geplaas, met die tuisspan wat die dag se spel op 366-8 afgesluit het.
Engeland loop met 195 lopies voor nadat Pakistan vir slegs 171 lopies uitgeknikker is.
Dan Lawrence het 51 lopies bygedra en ‘n vennootskap van 120 lopies met Brook gedeel, terwyl Joe Root 66 en Jordan Cox 73 lopies aangeteken het. Pakistan se Ali Usman het met sy boulwerk van 5 vir 92 uitgeblink, met die uitslag wat Pakistan met slegs ‘n skraal hoop laat in die reeks van drie toetswedstryde.







Comments