top of page

RUGBY: Die Bok-vroue systap Brasilië in hul openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi

  • Writer: Saamgestel deur Armando Pieters
    Saamgestel deur Armando Pieters
  • Aug 25, 2025
  • 1 min read

Die Bok-vroue het hul 2025 Wêreldbeker-toernooi in Engeland skitterend begin toe hulle Brasilië met 66 – 6 verniel het. Die Suid-Afrikaners het 10 drieë gedruk wat ook ’n driekuns ingesluit het van Aseza Hele. Die gasheer Engeland het baie gevaarlik gelyk in die openingswedstryd en die VSA met 69 – 7 afgeransel, Skotland het Wallis met 38 – 8 oorrompel, Kanada het Fidji deurmekaar gehardloop in ‘n eensydige 65 – 7 affêre, Ierland het hul flair teen Japan in ‘n 42 – 14 sege gewys terwyl Australië vir Samoa gestoomroller het met 73 – 0. Die verdedigende kampioen Nieu-Seeland het ook vroeg hul stempel in die toernooi afgedruk en Spanje uit die pad gevee met 54 – 8. Suid-Afrika wat in Groep D meeding speel eerskomende Sondag teen Italië wat op hul beurt weer hul rieme styfgeloop het met Frankryk wat die Le Azzurre  met 24 – 0 getroef het. *In die Curriebeker-reeks het die Cheetahs byna weer op die piesangskil gegly maar kopgehou om die Leeus uiteindelik in Bloemfontein met 47 – 31 te kon klop. Die Boland Kavaliers storm steeds voort na ‘n plek in die halfeindronde nadat hulle die Pumas in Nelspruit met 29 – 26 geklop het terwyl die Haaie uiteindelik ‘n eerste sege kon behaal toe hulle in Durban die sukkelende Westelike Provinsie met 29 – 21 uitgestof het. Die Griekwas het die Bulle se naweek ook deurmekaargekrap toe die Noord-Kapenaars die Ligbloues by die Grizzlies Rugbyklub in Pretoria gestuit het met ’n eindtelling van 42 – 21.

 
 
 

Comments


bottom of page