RUGBY: Die Wallabies skok die Springbokke in die Rugby Kampioenskaps-reeks se openingswedstryd op Ellispark
- Saamgestel deur Armando Pieters

- Aug 18, 2025
- 2 min read
Die Springbokke is na ’n skitterende terugvegpoging deur die Wallabies terug aarde toe gebring toe die Goue Truie die heersende Wêreldkampioen met 38 – 22 op Ellispark gestuit het in die openingswedstryd van die Kampioenskaps-reeks. Suid-Afrikaanse ondersteuners het reggemaak vir ’n feeswedstryd want na slegs een minuut was Kurt-Lee Arendse reeds agter die doellyn en toe Andre Esterhuizen en kaptein Siya Kolisi boonop in die 12de en 17de minuut deurdraf vir hulle onderskeie drieë het dit gelyk of die Groen en Goue golf oor Australië gaan spoel. Na lemoentyd was dit egter ’n heel ander Wallaby span want na slegs twee minute se spel in die tweede helfte het Harry Wilson soos ’n mes deur botter gesny vir sy eerste van twee drieë. In die volgende 18 minute het die Goue tsoenami die Bokke na lug laat gryp en het die besoekers nog vier keer gaan druk. Die twee spanne ontmoet eerskomende Saterdag weer in Kaapstad met die afskoptyd om 17:10. In die Curriebeker-reeks het die Cheetahs amper weer ’n oorwinning op ‘n skinkbord weggegee maar vasgeklou om die WP met 31 – 24 in Bloemfontein te klop. Die Griekwas het die Haaie hul derde agtereenvolgende nederlaag toegedien met ‘n telling van 26 – 17 in Kimberley, die Leeus het die Pumas in Nelspruit met 36 – 35 verras terwyl die Boland in Wellington die Bulle gesink het met 28 - 20. Grey Kollege se eerste span het in ’n spannende wedstryd Paul Roos Gimnasium met 26 – 25 geklop in dié interskole derby in Bloemfontein. In die 68ste minuut was Grey nog met 19 – 25 agter maar ’n dwarsskop oor die veld deur die losskakel Darius Erwee het die bal perfek geplaas vir sy linkekrvleuel Eddie Mabena wat die bal in die doelgebied uit die lug gepluk het vir ’n skitterende vyf punter met Erwee wat daarna koelkop aangelê het vir die wen doelskop. In die twee Stadsliga eindstryde wat in die Vrystaat Stadion beslis was is die Hoërskool Fichardtpark as Vrystaat A-liga kampioen gekroon nadat hulle Jim Fouche met 17 – 10 uitoorlê het terwyl die Hoërskool Bloemfontein die B-liga kampioen is na ‘n 28 – 23 sege oor St. Andrews.






Comments