SA bly vir eers deel van Agoa

Amerikaanse president Donald Trump het die finansieringswetsontwerp goedgekeur wat die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) tot 31 Desember 2028 verleng.
Maroela Media berig die hoof van openbare skakeling by Solidariteit, Jaco Kleynhans, sê die verlenging bied noodsaaklike ekonomiese sekerheid aan bedrywe reg oor Afrika suid van die Sahara.
Hy sê egter hulle is bekommerd oor die voortgesette debat in Washington oor Suid-Afrika se toekomstige kwalifisering vir Agoa. Suid-Afrika se uitsluiting sal ’n verwoestende uitwerking op belangrike plaaslike bedrywe hê, veral die motor- en landbousektor, en duisende gespesialiseerde poste in gevaar stel.
Solidariteit doen daarom ’n sterk beroep op die Withuis om Suid-Afrika op die lys van kwalifiserende lande te behou. Agoa bied kritieke voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark, wat duisende werksgeleenthede ondersteun en miljarde rand se uitvoere moontlik maak.
Die Withuis kan egter ingevolge Agoa jaarliks veranderings aan die lys van begunstigde lande aanbring.








Comments