Saai vra dat Onderstepoort Biologiese Produkte geprivatiseer word

Saai het ʼn beroep op die regering van nasionale eenheid (RNE) gedoen om Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) te privatiseer. Saai voer aan dat die staatsbeheerde entstofvervaardiger se jarelange agteruitgang nou dele van Suid-Afrika se veebedryf lamlê.
Maroela Media berig die landbou-organisasie sê OBP, wat aan die staat behoort, het oor meer as twee dekades sy doeltreffendheid en mededingendheid ingeboet en is nie meer die instelling van uitnemendheid wat dit eens was nie.
Die vervaardiging van verskeie entstowwe het volgens Saai agtergeraak of tot stilstand gekom. Van die 24 belangrikste vee-entstowwe wat OBP versprei, voorsien die maatskappy volgens Saai tans in slegs sowat 40% van die mark se behoefte.
Die organisasie sê die voortslepende bek-en-klouseer het OBP se tekortkominge verder blootgelê.
Saai meen privatisering sal OBP in staat stel om kundiges op grond van kwalifikasies en prestasie aan te stel, private kapitaal vir infrastruktuur, toerusting en navorsing te lok en weer ʼn bate vir veeboere te word.








Comments