UV-navorsers sê die Jagersfontein-ramp bied belangrike lesse

Vier jaar ná die ineenstorting van die Jagersfontein-myn se stortingsdam sê navorsers aan die Universiteit van die Vrystaat die ramp was nie bloot ’n tegniese mislukking nie.
Volgens ’n aanlyn artikel wys nuwe navorsing ook op probleme met bestuur, kommunikasie en aanspreeklikheid.
Die dam het op 11 September 2022 ineengestort en tussen vyf- en ses miljoen kubieke meter mynafval vrygestel. Twee mense is oorlede, een persoon is nooit gevind nie, sowat 200 huise is beskadig en ongeveer 1 600 hektaar landbougrond is besoedel.
Die navorsers sê inwoners het geen amptelike waarskuwing ontvang nie en baie het eers besef wat gebeur toe die afvalstroom reeds op pad na hul huise was.
Hulle doen nou ’n beroep op beter vroeë waarskuwingstelsels, groter gemeenskapsbetrokkenheid en meer deursigtige herstelprosesse, asook ’n verbintenis om uit rampe te leer voordat dit uit mense se geheue vervaag.








Comments