top of page

Afrikaanse skole moet hul dokumentasie gereed hê teen toenemende druk

  • Writer: Saamgestel deur Armando Pieters
    Saamgestel deur Armando Pieters
  • Jul 18, 2025
  • 1 min read

Afrikaanse skole moet hul beleidsdokumente en kapasiteitsbepaling wettig dokumenteer om hulle teen toenemende druk te beskerm om hul toelatings- en taalbeleid aan te pas. So waarsku die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), Solidariteit en AfriForum.

Maroela Media berig 'n onafhanklike onderwysbestuurskonsultant, Marius Botha, sê sekere distriksamptenare het glo reeds opleiding ontvang wat gebaseer is op ʼn eensydige en potensieel strydige interpretasie van die nuwe gepubliseerde riglyne.

Hy sê amptenare word nie net toegerus nie, maar aktief opgelei om hierdie interpretasie as operasionele opdrag uit te voer.

Die uitvoerende hoof van die SOS, Leon Fourie, sê ‘n geldige kapasiteitsbepaling is nie bloot administratief van aard nie, maar ʼn sleutelkomponent wat kan help om toekomstige aanslae op Afrikaanse skole af te weer.

Die riglyne bepaal dat geen skool verplig kan word om sy taalbeleid te wysig as hy reeds sy kapasiteit bereik het en genoegsame aansoeke ontvang het nie. Hierdie voorsiening geld slegs indien die skool oor ʼn vasgestelde kapasiteitsbepaling en toelatingsbeleid beskik wat ooreenstem met wetlike riglyne.

 
 
 

Comments


bottom of page