Antieke wyn ter waarde van miljoene rand is in 'n Tsjeggiese kasteel ontdek
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Jun 3
- 1 min read
Agt bottels van ’n legendariese Franse wyn is sowat 130 jaar nadat dit geproduseer is, weer gerestoureer. Dié wyn het nie net die Tweede Wêreldoorlog oorleef nie, maar ook dekades van kommunistiese bewind nadat dit onder die vloer van ’n Tsjeggiese kasteel versteek is.
Maroela Media berig die historiese versameling het oorspronklik aan 'n adellike familie behoort wat die voormalige Tsjeggo-Slowakye aan die einde van die oorlog inderhaas moes verlaat toe hulle daarvan verdink is dat hulle kop in een mus met die Nazi’s was.
Die wyn het dekades lank onder die vloerplanke van die kasteelkapel versteek gebly. Polisie het dit eers in 1985 ontdek.
Die keldermeester wat vir die restourasie verantwoordelik is, sê hulle het ’n baie klein hoeveelheid geproe om seker te maak dat die wyn se aroma, balans op die palet en algehele indruk ooreenstem met ’n Chateau van daardie ouderdom. Laboratoriumtoetse het verder ook bevestig die wyn is wel die ware Jakob.
Die Tsjeggiese Nasionale Erfenisinstituut het die waarde van die hele versameling op sowat R93 miljoen beraam, sou dit opgeveil word.








Comments