Backabuddy kanselleer Peet Viljoen se veldtog
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 6 days ago
- 1 min read
Die skarefinansieringswebwerf BackaBuddy het Mel Viljoen se poging om R400 000 vir haar man, Peet, se regsfonds in te samel, gesluit.
'n Kennisgewing van die platform lui dat dit in ooreenstemming met BackaBuddy se standaarde, bepalings en voorwaardes gesluit is, wat konsekwent toegepas word om skenkers, die skeppers van veldtogte en die integriteit van ons gemeenskap te beskerm.
Maroela Media berig teen Dinsdag het verskeie mense reeds bydraes gemaak. Volgens BackaBuddy sal alle skenkings wat daarvoor in aanmerking kom, stelselmatig terugbetaal word.
Peet staan tereg op 400 aanklagte wat bedrog, diefstal, vervalsing van dokumente en korrupsie insluit.
Die Viljoen-egpaar, in ʼn stadium sterre van die werklikheidsreeks Die Real Housewives van Pretoria en wat hulle verlede jaar in die VSA gaan vestig het, is vroeër vanjaar op aanklagte van winkeldiefstal in Florida aangekeer. Later is hulle in aanhouding gewees omdat hul visums verstryk het, en het apart na Suid-Afrika teruggekeer.
Peet is op die OR Tambo- internasionale lughawe in hegtenis geneem, en verskyn na verwagting Woensdag weer in die hof.








Comments