Godongwana wil brandstofheffings op petrol afskaf

Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê Suid-Afrika moet sy brandstofheffingstelsel verander, met die langtermyndoelwit om heffings op petrol af te skaf.
Volgens Eyewitness News het Godongwana ná verlede week se middeltermynbegroting gesê die regering moet ’n manier vind om die algemene brandstofheffing geleidelik uit te faseer.
Hy sê die regering moet ook die finansiering van die Padongelukfonds heroorweeg.
Hoewel die afskaffing van heffings motoriste moontlik finansiële verligting kan bring, sal die regering ’n ander bron van inkomste moet vind, aangesien die algemene brandstofheffing sowat R80 miljard per jaar in die staatskas inbring.
Die voorstel kom te midde van stygende brandstof- en voedselpryse wat huishoudings onder druk plaas.
Intussen sê die minister van Vervoer, Barbara Creecy, die regering ondersoek maniere om die Padongelukfonds te befonds namate motoriste toenemend na elektriese voertuie oorskakel.
Die fonds maak tans staat op 'n heffing van R2.25 per liter petrol en diesel, wat kan daal namate brandstofverbruik verander.
Creecy sê eienaars van elektriese voertuie moet ook tot die fonds bydra, wat slagoffers van padongelukke vergoed.
Moontlike opsies sluit in die toepassing van die heffing op voertuiglisensiehernuwings en voertuie wat in die buiteland geregistreer is en Suid-Afrika binnekom.
Enige veranderinge sal wetgewende wysigings vereis, en geen finale besluit is nog aangekondig nie.









Comments