top of page
ChatGPT Image Mar 5, 2026, 10_59_10 AM.png

MIDDAG SPORT: Bavuma is uit vir die toets, Nederlandse steun bied vir Tatjana Smith ’n volhoubare toekoms, en Rassie se skorsing kan die Bokke skerper maak voor die Wêreldbeker

Writer: Saamgestel deur Ilde Roos
Saamgestel deur Ilde Roos
2 days ago
2 min read

In krieket: Die Proteas se oorwinning met nege paaltjies teen Bangladesj in die eerste toets word oorskadu deur die nuus dat die kaptein, Temba Bavuma, die tweede wedstryd weens 'n kuitbesering sal misloop.


Bavuma het sy afwesigheid bevestig nadat hy op 49 lopies mankend van die veld gestap het en die volgende dag teruggekeer en onoorwonne op 68 geëindig, maar erken dat sy herhalende beserings frustrerend is.


Die 36-jarige het reeds met sy rehabilitasieprogram begin en sê dit is nog te vroeg om te bepaal of hy beskikbaar sal wees vir die eendagreeks wat in Desember begin, terwyl sy herstel deur die mediese span gemonitor word.


LUISTER HIER:


Temba Bavuma


In swem: Tatjana Smith se besluit om voortaan onder die Nederlandse vlag te swem, word grootliks beïnvloed deur die finansiële en hoëprestasie-ondersteuning wat sy in dié land sal ontvang.


Hierdie ondersteuning is iets wat volgens haar man en agent, Joel, in skrille kontras staan met die situasie in Suid-Afrika.


Die Nederlandse swemfederasie sal aan haar ’n maandelikse voorskot betaal en haar swemuitgawes deur ’n aansienlike jaarlikse toekenning dek, terwyl Suid-Afrikaanse swemmers dikwels self vir reis, verblyf en internasionale deelname moet betaal.


Joel wys daarop dat Tatjana tussen R15 000 en R20 000 moes opdok om aan die nasionale kampioenskap in Pietermaritzburg deel te neem, met ’n verdere R55 000 nodig om Suid-Afrika by die Wêreld-watersportkampioenskap in Beijing te verteenwoordig.


Hoewel Saskok se Opex-program jaarliks tot R300 000 aan topatlete beskikbaar stel, moet hulle eers self vir goedgekeurde uitgawes betaal en dit daarna terugeis.




In rugby: Die sportpsigoloog Henning Gericke glo dat Rassie Erasmus se skorsing van ses wedstryde voordelig vir die Springbokke kan wees in hul voorbereiding vir volgende jaar se Wêreldbeker, aangesien dit hulle dwing om te leer hoe om onverwagse uitdagings en druk te hanteer.


Erasmus sal môre se kragmeting teen Ierland in Dublin misloop, nadat hy deur Wêreldrugby geskors is na hy wedstrydbeamptes daarvan beskuldig het dat hulle onwettige duikslae oor die hoof gesien het.


Gericke glo dat die spelers in Erasmus se afwesigheid selfs skerper kan word en wys op die leierskap van senior spelers soos Eben Etzebeth, Siya Kolisi en Malcolm Marx, en beklemtoon dat die stelsel wat die afrigter noukeurig opgebou het, in plek sal bly.


Verder het hy die spelers geprys vir die emosionele volwassenheid waarmee hulle die media-aandag rondom die skorsing hanteer het.


Temba Bavuma. FOTO: Netwerk24
Temba Bavuma. FOTO: Netwerk24

 
 
 

Comments


bottom of page