Oggend Sport: SA verenig in steun vir geskorsde Erasmus, Vyf jaers stry om die tweede plek terwyl F1 na Las Vegas beweeg en Pavan mik vir 'n emosionele terugkeer by die Suid-Afrikaanse Ope

Ons begin met rugby: Suid-Afrikaners uit verskeie kringe, waaronder die ANC en die minister van Sport, Gayton McKenzie, het hul steun aan die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, toegesê.
Dít nadat Wêreldrugby hom vir ses wedstryde geskors het weens sy kritiek op die skeidsregterwerk in die nederlaag teen Frankryk.
Erasmus het beweer dat Frankryk tot 16 onwettige knie-val-duikslae uitgevoer het sonder dat die skeidsregter of televisiewedstrydbeampte ingegryp het, en het bevraagteken of die versuim om op te tree as wedstrydknoeiery beskou kan word.
SA Rugby het om ’n volledige wangedragverhoor aansoek gedoen sodat Erasmus die geleentheid kan kry om sy opmerkings in konteks te verduidelik, terwyl die ANC ook ’n volledige ondersoek na die skorsing steun.
Dit is die derde keer dat Erasmus deur Wêreldrugby geskors word, met sy vorige strawwe in 2021 en 2022.
Die Springbokke kom Saterdag teen Ierland in Dublin te staan.
In in forule een-nuus: Formule Een trek hierdie naweek na Las Vegas vir die 21ste ronde van die seisoen en alhoewel Kimi Antonelli en Mercedes reeds as kampioene gekroon is, is daar steeds vyf jaers wat veg vir die tweede plek in die jaerskampioenskap.
George Russell is 17 punte agter Max Verstappen en beklee tans die derde plek met 262 punte, terwyl Lewis Hamilton, Charles Leclerc en die huidige kampioen, Lando Norris, steeds binne trefafstand is met nog drie wedrenne wat voorlê.
Intussen is McLaren en Red Bull in 'n hewige stryd gewikkel vir 'n plek op die podium in die vervaardigerskampioenskap, terwyl Oscar Piastri 'n straf van tien plekke op die wegspringrooster in die gesig staar.
Die Las Vegas Grand Prix strek oor 50 rondes en daar word verwag dat koue woestyntoestande, 'n bykomende uitdaging sal skep vir spanne wat probeer om hul bande tot die regte temperatuur te verhit.
En, in gholf-nuus: Die Italiaanse gholfspeler, Andrea Pavan, beoog om by volgende jaar se Suid-Afrikaanse Ope in Stellenbosch na mededingende gholf terug te keer. Dit byna 'n jaar nadat hy ernstige beserings opgedoen het in 'n hyserongeluk tydens vanjaar se toernooi.
Die toernooi word van 4 tot 7 Maart by die Stellenbosch-gholfklub gehou.
Die 36-jarige sê hy is dankbaar om te lewe en het bemoedigende vordering met sy herstel gemaak, al sukkel hy steeds met spierverlies en swakheid in sy onderrug en regterheup.
Pavan het weer begin oefen en werk daaraan om sy swaaispoed te herwin, nadat hy aanvanklik gevrees het dat hy dalk nooit weer gholf sou kon speel nie.
Ten spyte van sy beproewing sê die Italianer dat hy steeds 'n groot liefde vir Suid-Afrika het en hy sien uit na die moontlikheid om terug te keer na 'n land waar hy reeds as amateur geniet het om gholf te speel.










Comments