top of page
ChatGPT Image Mar 5, 2026, 10_59_10 AM.png

MIDDAG SPORT: Die Proteas klop met gemak vir Bangladesh, Human verwag ‘n taai stryd tussen die voorspelers en, Saskok lei ‘n volskaalse ondersoek na Swem SA

Writer: Saamgestel deur Jana Roos
Saamgestel deur Jana Roos
3 days ago
2 min read

In krieket-nuus: Die Proteas het Bangladesh met nege paaltjies in die eerste toets op die Wanderers geklop en neem daarmee 'n voorsprong in die twee-toetsreeks.


Volgens Cricket World is Bangladesh in hul tweede beurt vir 168 uitgeboul, nadat hulle vroeër 400 lopies aangeteken het. Simon Harmer was die uitblinker met die bal in die tweede beurt en het ses paaltjies vir 51 lopies geneem, terwyl Kagiso Rabada drie paaltjies vir 48 lopies bygevoeg het.


Rabada het vroeër in Bangladesh se eerste beurt vyf paaltjies vir 70 lopies geneem. Suid-Afrika het in hul eerste beurt 557 lopies aangeteken, met Marques Ackerman wat 157 en Ryan Rickelton 102 bygedra het. Die Proteas het daarna die klein teiken van 12 lopies bereik om die oorwinning te beklink.


Die tweede toets begin Maandag in Centurion.

 

# In rugby-nuus: Die Springbok-hulpafrigter, Daan Human, verwag Saterdag in die Nasieskampioenskap-kragmeting teen Ierland by die Aviva-stadion in Dublin ’n hewige stryd tussen die voorspelers met skrums, die losgemaal en lynstane wat as kritieke areas geïdentifiseer is.


Ten spyte daarvan dat hulle die skrums teen Frankryk oorheers het sonder om werklik daarvoor beloon te word, sal die Bokke ’n kragtige begin-voorry bestaande uit Ox Nche, Malcolm Marx en Wilco Louw, op die veld stuur.


Human meen Ierland het aansienlik verbeter sedert hul nederlaag van 24-13 teen die Bokke in November verlede jaar, en wys onder meer daarop dat hulle verlede week teen Fiji daarin geslaag het om vier of vyf strafskoppe in die skrums af te dwing.


Hy het beklemtoon dat elke skrum ’n nuwe uitdaging bied en dat die Springbokke steeds werk het om te doen, om hul vertoning in vaste fasette te verbeter, indien hulle Ierland op eie bodem wil klop.

 

En, in swem-nuus: Die minister van sport, Gayton McKenzie, het in die parlement bevestig dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee, Saskok, ’n taakspan gaan saamstel om ’n volskaalse ondersoek na Swem SA se bestuur, finansies en administrasie te lei.


Die ondersoek volg nadat Olimpiese kampioen, Tatjana Smith, aangekondig het dat sy Nederland in die volgende Olimpiese Spele gaan verteenwoordig. Hierdie besluit kom nadat Swem SA haar met 46-duisend euro beboet en haar prysgeld van 45-duisend dollar van die 2023-Wêreldkampioenskap teruggehou het weens ’n borgskapsdispuut.


McKenzie wil hê die ondersoek moet onder meer Swem SA se Arena-borgskap, boetes teen swemmers, besteding by die Franschhoek-hoëprestasiesentrum en tekortkominge in die federasie se grondwet ondersoek.


Saskok se waarnemende president, Lwandile Simelane, sê die taakspan sal na verwagting binne 90 dae sy ondersoek voltooi en aanbevelings doen om die federasie te stabiliseer en volhoubare hervorming te bewerkstellig.   



GRAFIKA: Proteas Men
GRAFIKA: Proteas Men

 

 

 
 
 

Comments


bottom of page