Beamptes fnuik vermeende ontvoerders
- Saamgestel deur Nadia Pieters

- 2 hours ago
- 1 min read
'n Man wat glo ontvoer en ernstig aangerand is, is in Bloemfontein gered nadat polisiebeamptes twee verdagte voertuie tydens patrollies opgemerk het.
Polisiewoordvoerder, sersant Mahlomola Kareli, sê lede van Parkweg se kliëntedienssentrum was in Lourierpark besig met Operasie Shanela toe hulle twee verdagte voertuie opgemerk het.
Een van die voertuie het weggejaag, terwyl die ander voertuig gestop en twee verdagtes in hegtenis geneem is. Lede van die Bloemfonteinse Blitspatrollie het die tweede voertuig agternagesit en nog vier verdagtes aangekeer.
Volgens Kareli is 'n 35-jarige man met ernstige beserings in die voertuig aangetref.
Hy beweer dat hy voor sy familie uit sy huis ontvoer en aangerand is nadat hy daarvan beskuldig is dat hy iemand anders se venster beskadig het.
Die man is na 'n hospitaal geneem waar sy toestand ernstig maar stabiel is.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering, poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging.








Comments