Beweerde juweeldiewe is vas na ‘n oor-en-weer geskietery
- Saamgestel deur Jana Roos

- Nov 19
- 1 min read
‘n Oor-en-weer geskietery met die polisie het tot die inhegtenisname van twee mans - wat vermoedelik juwelierswinkels in Bloemfontein beroof het - gelei.
Die polisie was op die uitkyk vir ‘n voertuig wat na bewering vroeër die week gebruik is toe winkels in twee van die stad se inkopiesentrums deur gewapende mans beroof is. Luidens ‘n verklaring het die polisie laat Dinsdagaand die verdagte voertuig by die Vaal Plaza tolhek genader, toe een van die insittindes ‘n vuurwapen op lede van die taakspan gerig het.
Dit het gelei tot ‘n skietgeveg waarin albei verdagtes gewond is.
Polisiewoordvoerder in die Vrystaat, kapt. Loraine Earle, sê die verdagtes is tans in die hospitaal onder polisiebewaking.
Rosestad-nuus het vroeër berig ses rowers het glo werknemers van ‘n juwelierswinkel in Northridge Mall opdrag gegee om op die vloer te sit en toe die kasregister en rakke vol juweliersware leeggemaak.
Later het vyf onbekende mans ook die Mimosa Mall- winkel binnegestorm en die werknemers met ‘n vuurwapen gedreig.





Comments