Binnelandse Sake lewer glo reeds mobiele Slim-ID-dienste vir kwesbare burgers
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Jun 9
- 1 min read
Alhoewel Binnelandse Sake nog nie ’n toegewyde nasionale beleid vir kwesbare groepe tydens die uitfasering van die groen ID-boekie bekend gemaak het nie, lewer die departement reeds glo in sekere gevalle mobiele uitreikdienste vir kwesbare groepe, insluitend mense in hospitale, versorgingsfasiliteite en afgeleë gemeenskappe.
IOL berig volgens beplanningsdokumente van Binnelandse Sake maak die departement staat op uitgebreide toegangsroetes om die groen ID-boekie te vervang. Dit sluit in vennootskappe met banke, digitale dienste en die ontplooiing van meer as 220 mobiele kantore regoor die land. Hierdie mobiele eenhede is toegerus met regstreekse opname-tegnologie wat gebruik word om vingerafdrukke, foto’s en biometriese inligting vas te lê wat vir Slim ID-kaarte benodig word.
Bejaarde of bedlêende individue sal waarskynlik hulp nodig hê om mobiele Binnelandse Sake-besoeke of spesiale ondersteuningsafsprake te reël.
Rosestad-nuus het vroeër berig volgens die regering is die skuif na Slim ID-kaarte nodig omdat die groen ID-boekie steeds kwesbaar is vir bedrog, identiteitsdiefstal en georganiseerde misdaad. President Cyril Ramaphosa het ook aangedui dat ’n toekomstige datum vasgestel sal word waarna die groen ID-boekie nie meer erken sal word nie.








Comments