Binnelandse Sake trek sy voorskrif oor asielaansoeke terug

Die departement van Binnelandse Sake het sy voorskrif oor die ontvangs van asielaansoeke by vlugtelingontvangskantore teruggetrek.
Die voorskrif is verlede maand uitgereik ná ’n uitspraak wat die Konstitusionele Hof in Julie in die saak van die Scalabrini-sentrum van Kaapstad gelewer het.
Volgens die departement was die voorskrif ’n operasionele maatreël om die implementering van die hofbevel te ondersteun.
Die departement sê egter die toepassing van die uitspraak het die vlugtelingontvangskantore binne enkele dae oorweldig, amptenare se veiligheid in gevaar gestel en kommer oor openbare veiligheid laat ontstaan.
Die departement sê hy sal nou met ’n nuwe proses begin om die geskikste manier te bepaal om aan die hofbevel te voldoen.









Comments